Ou Testament

Nuwe Testament

1 Konings 11:28-36 Bybel vir Almal (ABA)

28. Die jongman Jerobeam was ’n belangrike man, en Salomo het gesien die jongman kan goed werk. Toe kies Salomo hom om die hoof te wees van al die mense van die Josef-stamme wat vir die koning moes werk.

29. Eendag het Jerobeam uit die stad Jerusalem gegaan, en die profeet Agija van Silo het hom langs die pad gekry. Agija het ’n nuwe bo-kleed aangehad en hulle twee was alleen in die veld.

30. Agija vat toe sy bo-kleed en skeur dit in twaalf stukke

31. en hy sê vir Jerobeam: “Neem vir jou tien stukke, want die Here, die God van Israel, sê: ‘Ek sal die land wegvat van Salomo en Ek sal vir jou tien stamme gee.

32. Salomo sal een stam hou omdat Ek lief was vir Dawid en omdat Ek lief is vir Jerusalem, die stad wat Ek gekies het van al die stede van die stamme van Israel.

33. Ek vat die land weg van Salomo en sy familie omdat hulle weggegaan het van My en gebuig het voor Astarte, die godin van die Sidoniërs, en voor Kemos, die god van die Moabiete, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Salomo het nie gelewe soos Ek wou hê nie en hy het nie die regte dinge gedoen waarvan Ek hou nie, die dinge wat Ek in my wette gesê het. Sy pa Dawid het dit gedoen, hy het reg gelewe.

34. Maar Ek sal nie die hele land wegvat van Salomo nie, hy sal aanhou regeer terwyl hy lewe. Ek sal dit doen omdat Ek lief was vir my dienaar Dawid wat Ek gekies het, hy het gedoen wat Ek in my wette gesê het.

35. Ek sal die land wegvat in die tyd wanneer Salomo se seun regeer en Ek sal die tien stamme vir jou gee.

36. Ek sal een stam vir sy seun gee sodat hy hulle koning kan bly, en sodat die lamp van die nageslag van my dienaar Dawid kan aanhou brand in Jerusalem, die stad wat Ek vir My gekies het om aan My te behoort.

Lees volledige hoofstuk 1 Konings 11