Ou Testament

Nuwe Testament

Openbaring 14:1-8 Bybel vir Almal (ABA)

1. En ek het gekyk en gesien die Lam staan op Sionsberg! Saam met Hom was daar 144 000 mense. Die Naam van die Lam en die Naam van die Vader was op hulle voorkoppe geskryf.

2. Toe hoor ek die engele in die hemel sing. Hulle stemme was so hard soos baie water wat raas, soos baie harde donderweer, soos wanneer mense op harpe speel.

3. Hulle het ’n nuwe lied gesing voor God se troon en voor die vier diere en voor die ouderlinge. Net die 144 000 mense kon daardie lied leer, niemand anders nie, want God het hulle losgekoop.

4. Hulle het nie onsedelik gelewe nie, hulle was maagde. Hulle het oral saam met die Lam gegaan. God het hulle vrygekoop. Ja, hulle was die eerste mense wat aan Hom en aan die Lam behoort het, God het hulle losgekoop om aan Hom te behoort.

5. Hulle het nooit leuens vertel nie, hulle het heeltemal reg gelewe.

6. Ek het ’n ander engel gesien wat hoog in die lug vlieg. Hy het ’n boodskap gehad, ’n boodskap wat altyd goed is. Hy moes die boodskap bring vir die mense van al die lande, stamme, tale en volke.

7. Die engel het hard geskree en gesê: “Julle moet vir God respekteer, want Hy gaan nou die mense oordeel! Julle moet Hom aanbid! Hy het die hemel en die aarde en die see en die fonteine gemaak.”

8. ’n Tweede engel het gekom. Hy het geskree en gesê: “Babilon, die groot stad, is afgebreek en verwoes! Ja, dit is plat! Babilon was soos ’n vrou wat onsedelik lewe, dit was vir haar baie lekker om so te lewe. En sy het vir die mense van die ander volke geleer om onsedelik te lewe.”

Lees volledige hoofstuk Openbaring 14