Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 5:35-47 Bybel vir Almal (ABA)

35. Julle moenie iets belowe en sê die aarde is die getuie nie, want die aarde is die plek waar God se voete rus. Julle moenie iets belowe en sê Jerusalem is die getuie nie, want Jerusalem is die stad van God, die Groot Koning.

36. Jy moenie iets belowe en sê jy is self die getuie nie, want jy kan nie self een haar op jou kop wit of swart maak nie, jy kan nie die kleur verander nie.

37. “Sê ‘ja’ wanneer julle ‘ja’ wil sê, en sê ‘nee’ wanneer julle ‘nee’ wil sê. Dit is die duiwel wat vir julle meer as dit laat sê.”

38. “Julle weet die wette sê: ‘As jy iemand se oog uitslaan, dan moet hy jou oog ook uitslaan. As jy iemand se tand uitslaan, dan moet hy jou tand ook uitslaan.’

39. Maar Ek sê vir julle: Moenie keer wanneer iemand slegte dinge doen aan jou nie. As hy jou op jou regter-wang klap, draai dan die ander wang na hom toe, sodat hy jou daar ook kan klap.

40. As hy jou hof toe wil vat omdat hy jou onderkleed wil hê, gee dan ook jou bo-kleed vir hom.

41. As ’n soldaat sê jy moet sy goed een myl ver dra, dan moet jy dit twee myl ver dra.

42. As iemand iets vir jou vra, gee dit vir hom. As iemand iets by jou wil leen, moenie vir hom ‘nee’ sê nie.”

43. “Julle weet die wette sê: ‘Jy moet lief wees vir jou naaste en jy moet jou vyand haat.’

44. Maar Ek sê vir julle: Julle moet lief wees vir julle vyande en julle moet bid vir die mense wat slegte dinge doen aan julle.

45. Dan sal die mense weet julle is kinders van julle Vader in die hemel. Want julle Vader laat die son skyn oor slegte en oor goeie mense en Hy laat die reën val op mense wat goed doen en ook op mense wat verkeerd doen.

46. As julle lief is net vir mense wat ook lief is vir julle, dan sal God nie daaroor goed wees vir julle nie. Die tollenaars doen presies dieselfde.

47. En as julle vriendelik is net met julle vriende, dan doen julle wat ander mense ook doen, julle doen niks beter as hulle nie. Die mense wat God nie ken nie, doen presies dieselfde.

Lees volledige hoofstuk Matteus 5