Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:56-66 Bybel vir Almal (ABA)

56. Maria Magdalena en Maria ma van Jakobus en Josef was daar, en ook die vrou van Sebedeus.

57. Dit was al laat en amper aand. Daar kom toe ’n ryk man van die stad Arimatea. Sy naam was Josef. Hy was self ook ’n dissipel van Jesus.

58. Josef het na Pilatus toe gegaan en hy het gevra of hy Jesus se liggaam kan kry. Toe het Pilatus gesê die soldate moet Jesus se liggaam vir Josef gee.

59. Josef het Jesus se liggaam geneem en hy het dit in ’n skoon lap toegedraai.

60. Hy het Jesus se liggaam in sy eie nuwe graf gesit wat hy in ’n rots laat kap het. Hy het ’n groot klip voor die graf gerol en weggegaan.

61. Maria Magdalena en die ander Maria was daar en hulle het voor die graf gesit.

62. Die volgende dag was dit die Sabbatdag, die dag ná die Vrydag. Die priesterleiers en die Fariseërs het by Pilatus bymekaargekom

63. en hulle het vir Pilatus gesê: “Meneer, ons onthou dat daardie man die mense bedrieg het toe hy gelewe het en gesê het: ‘Ná drie dae sal God My weer laat lewe.’

64. Jy moet vir die soldate sê hulle moet die graf drie dae lank oppas. As jy dit nie doen nie, dan sal sy dissipels miskien kom en hulle sal sy liggaam steel en vir die volk sê hy lewe weer. Hierdie nuwe leuen sal groter wees as die eerste leuen, toe hy gesê het dat hy die Christus is.”

65. Pilatus sê toe vir hulle: “Neem ’n groep soldate en sê hulle moet die graf goed oppas. Julle weet hoe om dit te doen.”

66. Die Joodse leiers het toe gegaan en hulle het gesê die soldate moet die graf oppas. Hulle het die klip voor die ingang verseël en hulle het die soldate daar laat bly om die graf op te pas.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27