Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:36-51 Bybel vir Almal (ABA)

36. Daarna het hulle gaan sit en hulle het Hom daar opgepas.

37. Hulle het bokant Jesus se kop op ’n plank geskryf hoekom hulle Hom gekruisig het. Hulle het geskryf: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”

38. Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

39. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en

40. hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!”

41. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê:

42. “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo!

43. Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ”

44. Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

45. Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur.

46. Omtrent drie-uur het Jesus baie hard geroep: “Eli, Eli, lema sabagtani?” Dit beteken “My God, my God, hoekom het U My gelos?”

47. Party van die mense wat daar gestaan het, het dit gehoor en hulle het gesê: “Hierdie man roep vir Elia!”

48. Een van hulle het dadelik gehardloop en ’n spons geneem en hy het dit vol suur wyn gemaak. Hy het dit op ’n dik riet gesit en vir Jesus probeer gee sodat Hy dit kon drink.

49. Maar die ander mense het gesê: “Wag, kom ons kyk of Elia kom om hom te red.”

50. Jesus het weer hard geskree en Hy het gesterf.

51. Die gordyn in die tempel het van bo tot onder geskeur. Dit was toe twee stukke. God het die aarde laat bewe en Hy het die rotse laat oopskeur.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27