Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 27:29-45 Bybel vir Almal (ABA)

29. Hulle het ’n kroon van doringtakke gevleg en hulle het dit op sy kop gesit. Hulle het ’n dik riet in sy regter-hand gesit. Die soldate het voor Hom gekniel en Hom gespot en gesê: “Ons groet jou, Koning van die Jode!”

30. Hulle het op Hom gespoeg en hulle het die riet geneem en aangehou om Jesus daarmee op sy kop te slaan.

31. Nadat hulle Jesus klaar gespot het, het hulle die pers bo-kleed uitgetrek en hulle het Jesus se eie klere vir Hom aangetrek. Die soldate het Jesus weggeneem sodat hulle Hom kon kruisig.

32. Toe hulle uit Jerusalem uitgaan, het hulle ’n man van die stad Sirene gesien. Sy naam was Simon. Die soldate het vir Simon gesê hy moet Jesus se kruis dra.

33. Hulle kom toe by die plek wat die mense Golgota noem. Golgota beteken “Plek van die kopbeen.”

34. Hulle het vir Jesus wyn gegee wat hulle met gal gemeng het, maar toe Hy dit proe, wou Hy dit nie drink nie.

35. Die soldate het vir Jesus gekruisig en elke soldaat het van Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry.

36. Daarna het hulle gaan sit en hulle het Hom daar opgepas.

37. Hulle het bokant Jesus se kop op ’n plank geskryf hoekom hulle Hom gekruisig het. Hulle het geskryf: “Dit is Jesus, die koning van die Jode.”

38. Die soldate het twee mense saam met Jesus gekruisig, een regs langs Hom, en die ander een links langs Hom. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

39. Die mense wat daar verbygeloop het, wou vir Jesus verneder. Hulle het gewys dat hulle bly is oor wat met Hom gebeur het en

40. hulle het gesê: “Jy het gesê jy sal die tempel afbreek en dit weer in drie dae bou. As jy die Seun van God is, red jouself nou en klim van die kruis af!”

41. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het ook so aangehou om vir Jesus te spot. Hulle het gesê:

42. “Hy het ander mense gered, maar hy kan homself nie red nie! Hy sê hy is die Koning van Israel. Hy moet nou afklim van die kruis, dan sal ons in hom glo!

43. Hy glo God sal hom red. God moet hom nou red as Hy dit wil doen, want Jesus het gesê: ‘Ek is die Seun van God.’ ”

44. Die twee mense wat saam met Jesus aan die kruise gehang het, het ook vir Jesus op dieselfde manier gespot. Hulle was mense wat teen die regering geveg het.

45. Omtrent twaalfuur die middag het dit donker geword in die hele land en dit was donker tot drie-uur.

Lees volledige hoofstuk Matteus 27