Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 24:37-45 Bybel vir Almal (ABA)

37. Wanneer Ek, die Seun van die mens, kom, dan sal dit wees soos in die tyd van Noag.

38. Want in daardie dae voor die watervloed het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het.

39. En hulle het nie geweet wat gebeur het nie, totdat die watervloed gekom het en alles weggespoel het. So sal dit ook wees wanneer Ek, die Seun van die mens, kom.

40. Dan sal twee mense in ’n koringland werk, en God sal die een mens kies maar nie die ander een nie.

41. Twee vroue sal met dieselfde maalklippe koring maal, en God sal een vrou kies maar nie die ander een nie.

42. Julle moet wakker wees, want julle weet nie op watter dag julle Here sal kom nie.

43. “Maar julle moet dit weet: As die eienaar van ’n huis weet hoe laat in die nag ’n dief sal kom, dan sal hy wakker bly en nie toelaat dat die dief by sy huis inbreek nie.

44. Daarom moet julle ook altyd gereed wees, want Ek, die Seun van die mens, sal kom wanneer julle dit nie verwag nie.”

45. Jesus het ook gesê: “Ek wil vir julle vertel hoe is ’n slaaf wat verstandig is en wat doen wat sy eienaar wil hê. Die eienaar kies een van sy slawe en stel hom aan om die hoof te wees oor al die ander slawe. Hy moet ook elke dag vir hulle kos gee.

Lees volledige hoofstuk Matteus 24