Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 21:27-40 Bybel vir Almal (ABA)

27. Daarom het die priesterleiers en die familieleiers vir Jesus gesê: “Ons weet nie.”Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.”

28. Jesus het gesê: “Wat dink julle, wie het reg gedoen? ’n Man het twee kinders gehad. Hy het na die eerste seun toe gegaan en vir hom gesê: ‘Kind, gaan werk vandag in my wingerd.’

29. Die seun het geantwoord: ‘Ek wil nie gaan nie.’ Maar later was hy jammer en hy het gaan werk.

30. Die man het daarna na die tweede seun toe gegaan en dieselfde vir hom gesê. Die seun het geantwoord: ‘Pa, ek sal gaan.’ Maar hy het nie gegaan nie.”

31. Jesus vra toe vir die priesterleiers en die familieleiers: “Watter seun het gedoen wat sy pa wou hê?”Hulle het gesê: “Die eerste seun.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Die tollenaars en die prostitute sal voor julle ingaan daar waar God Koning is.

32. Want Johannes die Doper het gekom om vir julle te wys hoe God wil hê julle moet lewe, en julle het hom nie geglo nie, maar die tollenaars en die prostitute het hom geglo. En toe julle dit sien, was julle nie later jammer nie, julle het nie vir Johannes geglo nie.”

33. Jesus het gesê: “Luister na nog ’n gelykenis. Daar was ’n man wat ’n klomp wingerdstokke op sy grond geplant het. Hy het ’n muur rondom die wingerd gebou en ’n parskuip gereedgemaak. Hy het ook ’n hoë toring gebou waarop iemand kon staan om die wingerd op te pas. Daarna het hy die wingerd verhuur aan ander mense. Toe het hy weggegaan.

34. Toe dit tyd word om die druiwe te pluk, het hy slawe na die mense toe gestuur om die druiwe te gaan haal wat hy moes kry.

35. Die mense het sy slawe gegryp. Hulle het die een slaaf geslaan, hulle het een slaaf doodgeslaan en een slaaf doodgegooi met klippe.

36. Daarna het die eienaar ander slawe gestuur, meer as die eerste klomp slawe. En die mense het dieselfde met hulle gedoen soos met die eerste groep.

37. “Laaste het die eienaar sy seun na hulle toe gestuur, want hy het gedink hulle sal sy seun respekteer.

38. Toe die mense die eienaar se seun sien, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan vat ons alles vir onsself.’

39. Hulle het die seun toe gegryp, hom uit die wingerd uitgegooi en hom doodgemaak.

40. Wat dink julle? Wat sal die eienaar van die wingerd met daardie mense doen wanneer hy kom?”

Lees volledige hoofstuk Matteus 21