Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16:3-21 Bybel vir Almal (ABA)

3. Maar wanneer die lug vroeg in die oggend rooi en bewolk is, dan sê julle daar kom ’n storm. Julle kan na die lug kyk en die weer voorspel, maar julle verstaan nie die tekens wat wys wat nou gebeur nie.

4. Die slegte en sondige mense wat nou lewe, wil ’n wonderteken hê en ’n bewys sien. God sal nie ’n wonderteken vir hulle wys nie. Hulle sal net een wonderteken sien, en dit is die teken van Jona.”En Jesus het hulle daar gelos en weggegaan.

5. Die dissipels van Jesus het na die ander kant van die see gegaan en hulle het vergeet om brood saam te neem.

6. Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van die Sadduseërs.”

7. Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood saamgeneem het nie.

8. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle so met mekaar oor die brood wat julle nie het nie? Hoekom is julle geloof so min?

9. Verstaan julle nog nie? Onthou julle die vyf brode wat genoeg was vir die 5 000 mense, en hoeveel mandjies vol julle opgetel het?

10. En onthou julle die sewe brode vir die 4 000 mense, en hoeveel groot mandjies vol julle opgetel het?

11. Hoekom verstaan julle nie? Ek het nie oor brood met julle gepraat nie, nee, julle moet oppas vir die suurdeeg van die Sadduseërs en die Fariseërs.”

12. Toe het hulle verstaan dat Jesus nie gepraat het oor die suurdeeg wat in brood gebruik word nie, maar dat Hy gesê het hulle moet oppas vir die dinge wat die Fariseërs en Sadduseërs vir die mense leer.

13. Jesus het na plekke naby die stad Sesarea-Filippi gegaan. Hy vra toe vir sy dissipels: “Wat sê die mense, wie is Ek, die Seun van die mens?”

14. Die dissipels sê toe: “Party mense sê U is Johannes die Doper, party sê U is Elia, en party sê U is Jeremia of een van die profete.”

15. Jesus het vir hulle gevra: “Maar julle, wat sê julle? Wie sê julle is Ek?”

16. Simon Petrus het Hom geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die God wat lewe.”

17. Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Simon seun van Jona, God sal jou seën. Dit is nie ’n mens wat vir jou gehelp het om dit te weet nie, maar my Vader wat in die hemel is.

18. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, die rots, en Ek sal my kerk op hierdie rots bou. Vyande sal my kerk nie oorwin nie, die dood sal dit ook nie doen nie.

19. Ek gee vir jou die sleutels van my huis. Jy sal oopsluit en jy sal toesluit. Jy sal vir mense leer dat God Koning is oor hulle. Almal wat nie by jou die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.”

20. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie.

21. Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat Hy na Jerusalem moet gaan en dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe.

Lees volledige hoofstuk Matteus 16