Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 16:16-28 Bybel vir Almal (ABA)

16. Simon Petrus het Hom geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die God wat lewe.”

17. Jesus het geantwoord en vir hom gesê: “Simon seun van Jona, God sal jou seën. Dit is nie ’n mens wat vir jou gehelp het om dit te weet nie, maar my Vader wat in die hemel is.

18. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, die rots, en Ek sal my kerk op hierdie rots bou. Vyande sal my kerk nie oorwin nie, die dood sal dit ook nie doen nie.

19. Ek gee vir jou die sleutels van my huis. Jy sal oopsluit en jy sal toesluit. Jy sal vir mense leer dat God Koning is oor hulle. Almal wat nie by jou die boodskap van God wil leer nie, sal nie in die hemel kom nie, maar almal wat dit leer, sal in die hemel kom.”

20. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê hulle mag nie vir ander mense vertel dat Hy die Christus is nie.

21. Van toe af het Jesus vir sy dissipels begin verduidelik dat Hy na Jerusalem moet gaan en dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom. Hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe.

22. Petrus het vir Jesus weggeneem van die ander dissipels en hy het met Hom begin raas. Petrus het gesê: “Here, ek bid dat God dit sal keer, dit sal nooit met U gebeur nie!”

23. Jesus het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg van My, Satan. Jy wil hê Ek moet verkeerd doen. Jy dink nie aan wat God wil hê nie, jy dink aan wat die mense wil hê.”

24. Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet lewe soos iemand wat weet dat hy aan ’n kruis sal sterf. Dit is hoe hy My moet volg.

25. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red.

26. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe, dan help dit jou niks. Hoeveel sal ’n mens betaal vir sy lewe?

27. Want Ek, die Seun van die mens, sal gou saam met die engele kom om Koning te wees soos my Vader Koning is. Dan sal Ek elke mens oordeel oor wat hy gedoen het.

28. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat Ek, die Seun van die mens, kom om Koning te wees. Hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”

Lees volledige hoofstuk Matteus 16