Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:33-46 Bybel vir Almal (ABA)

33. “Julle weet ’n goeie boom dra goeie vrugte en ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Mens ken ’n boom wanneer jy sien watter vrugte dit dra.

34. Julle is soos slange! Julle is self slegte mense, daarom kan julle nie iets sê wat goed is nie. Die dinge wat ’n mens sê, wys wat in sy hart is.

35. ’n Goeie mens het ’n klomp goeie dinge in sy hart, daarom praat hy altyd goeie en mooi woorde. ’n Slegte mens het ’n klomp slegte dinge in sy hart, daarom praat hy altyd slegte dinge.

36. Maar Ek sê vir julle, die dag wanneer God die mense sal oordeel, sal elke mens vir God moet antwoord oor alles wat hy gesê het wat nie reg is nie.

37. Want God sal julle oordeel oor wat julle gesê het, en Hy sal besluit of julle skuldig is of onskuldig.”

38. Party skrifgeleerdes en Fariseërs het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, ons wil hê U moet vir ons ’n wonderteken wys sodat ons kan sien U kom van God.”

39. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Slegte en goddelose mense soos julle wil ’n wonderteken hê, hulle wil ’n bewys sien. God sal nie ’n teken vir julle wys nie. Julle sal net een teken kry, dit is die teken van die profeet Jona.

40. Jona was drie dae en drie nagte in die maag van die groot vis. So sal Ek, die Seun van die mens, ook drie dae en drie nagte in die graf wees.

41. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, sal die mense van die stad Nineve weer lewe en hulle sal by die mense wees wat nou lewe. Toe Jona vir hulle gepreek het, het die mense van Nineve verander en hulle het begin lewe soos God wil hê. Wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die mense van Nineve sê dat die mense wat nou lewe, verkeerd doen en skuldig is, en dat God hulle moet straf. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as Jona.

42. Daardie dag wanneer God die mense sal oordeel, dan sal die koningin van die Suide ook weer lewe en sy sal by die mense wees wat nou lewe. Sy sal sê julle doen verkeerd en julle is skuldig, en God moet julle straf. Sy het baie ver uit haar land gekom om te kom luister na die wysheid van koning Salomo. En Ek sê vir julle, hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as koning Salomo.”

43. “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek ’n plek waar hy kan woon. As hy nie ’n plek kry waar hy kan woon nie,

44. dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, na die mens toe in wie ek gewoon het.’ Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos ’n huis wat leeg en skoon en netjies is.

45. Dan gaan haal hy sewe ander geeste wat nog slegter is as hy. Hulle kom almal saam met hom, en hulle gaan woon in daardie mens. Wanneer dit gebeur, dan is daardie mens nog slegter as wat hy was. Dit sal gebeur met die slegte mense wat nou lewe.”

46. Jesus was besig om met mense te praat wat bymekaar was in ’n huis. Sy ma, Maria, en sy broers het buite die huis gestaan. Hulle wou met Jesus praat.

Lees volledige hoofstuk Matteus 12