Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 12:27-39 Bybel vir Almal (ABA)

27. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help dan julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is.

28. Dit is die Gees van God wat My help om duiwels uit te jaag, en dit bewys dat God die Koning is wat begin regeer het oor julle.

29. ’n Mens kan nie maklik in die huis van ’n sterk man ingaan en sy goed steel nie. Nee, jy moet eers die sterk man vasbind, dan kan jy alles in sy huis steel.

30. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom.

31. Daarom sê Ek vir julle: God sal mense vergewe as hulle sonde doen of sleg praat van iemand. Maar as iemand sleg praat van die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie.

32. As iemand iets sê teen die Seun van die mens, dan sal God dit vergewe, maar as iemand iets sê teen die Heilige Gees, dan sal God dit nooit vergewe nie, nie in hierdie lewe nie, en ook nie in die lewe wat sal kom nie.”

33. “Julle weet ’n goeie boom dra goeie vrugte en ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Mens ken ’n boom wanneer jy sien watter vrugte dit dra.

34. Julle is soos slange! Julle is self slegte mense, daarom kan julle nie iets sê wat goed is nie. Die dinge wat ’n mens sê, wys wat in sy hart is.

35. ’n Goeie mens het ’n klomp goeie dinge in sy hart, daarom praat hy altyd goeie en mooi woorde. ’n Slegte mens het ’n klomp slegte dinge in sy hart, daarom praat hy altyd slegte dinge.

36. Maar Ek sê vir julle, die dag wanneer God die mense sal oordeel, sal elke mens vir God moet antwoord oor alles wat hy gesê het wat nie reg is nie.

37. Want God sal julle oordeel oor wat julle gesê het, en Hy sal besluit of julle skuldig is of onskuldig.”

38. Party skrifgeleerdes en Fariseërs het na Jesus toe gekom. Hulle het vir Hom gesê: “Meneer, ons wil hê U moet vir ons ’n wonderteken wys sodat ons kan sien U kom van God.”

39. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Slegte en goddelose mense soos julle wil ’n wonderteken hê, hulle wil ’n bewys sien. God sal nie ’n teken vir julle wys nie. Julle sal net een teken kry, dit is die teken van die profeet Jona.

Lees volledige hoofstuk Matteus 12