Ou Testament

Nuwe Testament

Matteus 1:17-25 Bybel vir Almal (ABA)

17. Van Abraham tot by Dawid was daar 14 geslagte. Van Dawid tot by die tyd toe die mense van Juda slawe was in Babilonië, was daar ook 14 geslagte. Van die tyd toe hulle slawe was in Babilonië tot by die Christus was daar ook 14 geslagte.

18. Dit is wat gebeur het voordat Jesus Christus gebore is: Sy ma, Maria, was verloof aan Josef. Hulle was nog nie getroud nie en hulle het nog nie saam geslaap nie, maar Maria het swanger geword. Dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het.

19. Josef, Maria se verloofde, was ’n goeie man. Hy was gehoorsaam aan die Wette van Moses en hy wou nie haar naam sleg maak by die mense nie. Daarom het hy besluit om sy verlowing met Maria te breek, maar hy wou dit vir niemand sê nie.

20. Terwyl Josef hieroor gedink het, het daar ’n engel van die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Josef, jy wat van die nageslag van Dawid is, jy moenie bang wees om met Maria te trou nie. Sy verwag ’n baba, maar dit is die Heilige Gees wat dit laat gebeur het.

21. Sy sal ’n seun kry, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”

22. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die Here gesê het. Die profeet het gesê:

23. “Die maagd sal swanger worden sy sal ’n seun kry.Hulle sal Hom Immanuel noem.”Immanuel beteken “God is by ons.”

24. Nadat Josef wakker geword het, het hy gedoen wat die engel van die Here vir hom gesê het. Hy het met Maria getrou.

25. Hy het nie by haar geslaap nie, hy het gewag tot nadat die seun gebore is. Josef het die seun Jesus genoem.

Lees volledige hoofstuk Matteus 1