Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 9:32-43 Bybel vir Almal (ABA)

32. Die dissipels het nog nie verstaan wat Jesus gesê het nie en hulle was te bang om vir Hom te vra wat sy woorde beteken.

33. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum gekom. Toe Jesus in die huis kom, het Hy vir die dissipels gevra: “Waaroor het julle met mekaar gestry terwyl julle geloop het?”

34. Maar hulle het stilgebly, want terwyl hulle geloop het, het hulle met mekaar gestry oor wie die belangrikste is.

35. Nadat Jesus gaan sit het, het Hy die twaalf dissipels geroep en vir hulle gesê: “As iemand die belangrikste wil wees, dan moet hy die minste belangrik van almal wees en dan moet hy almal dien.”

36. Jesus het ’n kindjie geneem en Hy het die kindjie voor hulle laat staan. Hy het die kindjie in sy arms vasgehou en vir sy dissipels gesê:

37. “Wanneer iemand vir een van die kinders wat aan My behoort, sê hy is welkom, dan sê hy Ek is ook welkom by hom. En wanneer Ek by iemand welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hom.”

38. Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy U nie saam met ons volg nie.”

39. Maar Jesus het gesê: “Julle moet hom nie keer nie. As iemand my Naam gebruik om ’n wonderwerk te doen, dan sal hy nie gou sleg praat oor My nie.

40. As hy nie teen ons is nie, dan help hy ons.

41. As iemand vir julle ’n beker water gee omdat julle aan Christus behoort, dan sal God vir hom baie goeie dinge gee. Dit is seker.”

42. “En as iemand een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat ophou glo, dan sal dit baie sleg gaan met hom. Dit sal vir hom beter wees as hulle ’n baie groot klip om sy nek vasmaak en hom in die see gooi.

43. As dit jou hand is wat jou laat ophou glo, kap dit af. Dit is beter om een hand te hê en die ewige lewe te ontvang, as om twee hande te hê en na die hel te gaan, na die vuur wat nooit ophou brand nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 9