Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:25-43 Bybel vir Almal (ABA)

25. Daar was ’n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei.

26. Sy het baie swaar gekry. Sy was by baie dokters en sy het alles wat sy gehad het, gegee om hulle te betaal, maar dit het nie gehelp nie. Sy het nog sieker geword.

27. Sy het van Jesus gehoor en sy het van agter gekom, tussen die klomp mense deur. Sy het aan Jesus se klere geraak.

28. Sy het gedink as sy net aan Jesus se klere kan raak, dan sal sy gesond word.

29. Sy het dadelik opgehou bloei en sy het geweet haar liggaam is gesond.

30. Jesus het ook gevoel dat van sy krag uit Hom uitgegaan het. Hy het omgedraai tussen die klomp mense en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31. Sy dissipels sê toe vir Hom: “U sien daar is baie mense wat naby U staan en teen U druk. Hoekom vra U: ‘Wie het aan My geraak?’ ”

32. Jesus het rondgekyk om te sien wie dit gedoen het.

33. Toe die vrou sien wat met haar gebeur het, het sy gebewe, want sy was baie bang. Sy het gekom en voor Jesus gekniel en sy het vir Hom vertel wat gebeur het.

34. Jesus sê toe vir haar: “Mevrou, jy het nou gesond geword, want jy het geglo. Gaan nou huis toe, dit sal goed gaan met jou, jou siekte is weg.”

35. Jaïrus was ’n hoof van die sinagoge. Daar het mense van sy huis na hom toe gekom. Jesus was besig om met die vrou te praat, en toe sê die mense vir Jaïrus: “Jou dogter is dood. Hoekom pla julle nog die Meneer?”

36. Jesus het gehoor wat hulle gesê het, maar Hy het vir Jaïrus gesê: “Jy moet ophou bang wees, jy moet aanhou glo.”

37. Jesus het vir Petrus en Jakobus en Johannes, die broer van Jakobus, saam met Hom geneem. Hy het niemand anders saamgeneem nie.

38. Toe hulle by Jaïrus se huis kom, hoor Jesus ’n klomp mense raas baie hard. Hulle was besig om te huil en te treur.

39. Jesus het ingegaan en vir hulle gesê: “Hoekom raas en huil julle so baie? Die kind is nie dood nie, sy slaap.”

40. Maar die mense het gelag omdat Jesus gesê het sy slaap. Jesus het almal uit die huis gejaag. Toe neem Hy die pa van die kind en haar ma saam met Hom, en ook die drie dissipels wat by Hom was. Hulle het ingegaan in die kamer waar die kind was.

41. Jesus neem toe die kind se hand en Hy sê vir haar: “Talita, koem!” Dit beteken “Dogtertjie, staan op!”

42. Die dogtertjie het dadelik opgestaan en begin rondloop. Sy was twaalf jaar oud. Die mense was toe baie verbaas.

43. Jesus het vir hulle gesê hulle mag glad nie vir iemand daarvan vertel nie. Hy het ook gesê hulle moet vir haar kos gee om te eet.

Lees volledige hoofstuk Markus 5