Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 5:14-33 Bybel vir Almal (ABA)

14. Die wagters wat die varke opgepas het, het weggehardloop en hulle het alles gaan vertel vir die mense in die stad en op die plase. Die mense het gekom om te kyk wat gebeur het.

15. Toe kom hulle by Jesus en hulle sien vir Legioen, die man wat die klomp duiwels in hom gehad het. Hy het klere aangehad. Daar was nie meer duiwels in hom nie, hy was nie meer mal nie. Die mense het toe baie bang geword.

16. Die ander mense wat alles gesien het, het vir hulle vertel wat gebeur het met die man wat die duiwels in hom gehad het en wat gebeur het met die varke.

17. Toe het almal vir Jesus gesoebat om weg te gaan van hulle plek.

18. Jesus het in die boot geklim. Die man wat die duiwels in hom gehad het, het aangehou soebat om saam met Jesus te gaan.

19. Maar Jesus wou hom nie laat saamkom nie. Hy het vir die man gesê: “Gaan na jou huis en na jou familie toe. Vertel vir hulle wat die Here vir jou gedoen het. Vertel vir hulle dat die Here goed was vir jou toe dit sleg gegaan het met jou.”

20. Die man het toe weggegaan en hy het in Dekapolis gaan vertel wat Jesus vir hom gedoen het. Almal was verbaas daaroor.

21. Daarna het Jesus weer in die boot na die ander kant van die see gegaan. ’n Klomp mense het daar langs die see by Hom bymekaargekom.

22. Jaïrus, een van die hoofde van die sinagoge, het daar aangekom. Toe hy vir Jesus sien, het hy voor Hom op die grond geval

23. en vir Jesus gesoebat: “My dogtertjie is baie siek en sy gaan sterf. Kom sit asseblief u hande op haar sodat sy gesond kan word en kan lewe.”

24. Jesus het saam met Jaïrus gegaan.’n Klomp mense het ook saamgegaan en hulle was so baie dat hulle teen Jesus gedruk het.

25. Daar was ’n vrou wat twaalf jaar lank siek was. Sy het aangehou bloei.

26. Sy het baie swaar gekry. Sy was by baie dokters en sy het alles wat sy gehad het, gegee om hulle te betaal, maar dit het nie gehelp nie. Sy het nog sieker geword.

27. Sy het van Jesus gehoor en sy het van agter gekom, tussen die klomp mense deur. Sy het aan Jesus se klere geraak.

28. Sy het gedink as sy net aan Jesus se klere kan raak, dan sal sy gesond word.

29. Sy het dadelik opgehou bloei en sy het geweet haar liggaam is gesond.

30. Jesus het ook gevoel dat van sy krag uit Hom uitgegaan het. Hy het omgedraai tussen die klomp mense en gevra: “Wie het aan my klere geraak?”

31. Sy dissipels sê toe vir Hom: “U sien daar is baie mense wat naby U staan en teen U druk. Hoekom vra U: ‘Wie het aan My geraak?’ ”

32. Jesus het rondgekyk om te sien wie dit gedoen het.

33. Toe die vrou sien wat met haar gebeur het, het sy gebewe, want sy was baie bang. Sy het gekom en voor Jesus gekniel en sy het vir Hom vertel wat gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Markus 5