Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 3:1-16 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het weer in die sinagoge ingegaan. Daar was ’n man met ’n gebreklike hand.

2. Die mense het Jesus dopgehou om te sien of Hy die man op die Sabbatdag gesond sal maak. Hulle wou Hom beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het.

3. Hy sê toe vir die man met die gebreklike hand: “Kom staan hier tussen die mense sodat almal jou kan sien.”

4. Jesus het vir die mense gevra: “Mag ’n mens op die Sabbatdag goed doen of verkeerd doen? Mag ’n mens iemand se lewe red, of mag ’n mens hom doodmaak?”Maar die mense het stilgebly.

5. Jesus het na die mense rondom Hom gekyk. Hy was kwaad en ook hartseer omdat hulle hardkoppig was. Hy sê toe vir die man: “Steek jou hand uit!”Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond.

6. Die Fariseërs het uitgegaan en hulle het dadelik saam met die Herodiane planne gemaak om Jesus dood te maak.

7. Jesus en sy dissipels het teruggegaan na die see en ’n klomp mense van die provinsie Galilea het saam met Hom gegaan. Daar het ook baie mense van die provinsie Judea gekom,

8. en van Jerusalem, en van die ander kant van die Jordaan-rivier en van die plekke rondom die stede Tirus en Sidon. Hulle het na Jesus toe gekom, want hulle het gehoor van die dinge wat Hy doen.

9. Jesus het vir sy dissipels gesê hulle moet vir Hom ’n bootjie kry. Daar was so baie mense dat Jesus bang was hulle druk teen Hom en maak Hom seer.

10. Jesus het baie mense gesond gemaak, en almal wat siek was, wou by Jesus kom en aan Hom raak.

11. Daar was ook mense wat onrein geeste in hulle gehad het. Elke maal wanneer hulle Jesus gesien het, het hulle voor Hom op die grond geval en geskree: “U is die Seun van God,”

12. maar Jesus het gesê hulle mag glad nie sê wie Hy is nie.

13. Jesus het na die berg gegaan en Hy het die mense wat Hy daar wou hê, na Hom toe geroep. Hulle het na Hom toe gekom.

14. Hy het twaalf manne gekies en Hy het hulle apostels genoem. Hulle moes by Hom bly. Hy wou hulle stuur sodat hulle kon gaan preek.

15. Hy het vir hulle krag gegee om duiwels uit mense te jaag.

16. Jesus het twaalf apostels gekies en aangestel. Hy het vir Simon die naam Petrus gegee,

Lees volledige hoofstuk Markus 3