Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:41-55 Bybel vir Almal (ABA)

41. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang.

42. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”

43. Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was ’n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur.

44. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal ’n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.”

45. Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer!” en hy het vir Jesus gesoen.

46. Die mense wat saam met Judas was, het vir Jesus gegryp en Hom gevang.

47. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester daarmee geslaan en hy het sy oor afgekap.

48. Jesus het gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang?

49. Ek was elke dag saam met julle by die tempel. Ek het vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Maar dit alles moet gebeur sodat dit waar kan word wat die Ou Testament sê.”

50. Jesus se dissipels het Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop.

51. Daar was ’n jongman wat saam met Jesus gegaan het. Hy het nie klere aangehad nie, net ’n stuk lap om sy liggaam. Die mense het hom gegryp en probeer om hom vas te hou,

52. maar hy het die lap daar gelos en kaal weggehardloop.

53. Die mense het Jesus weggevat na die hoëpriester toe, en al die priesterleiers en die familieleiers en die skrifgeleerdes het daar bymekaargekom.

54. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het saam met die wagte by die vuur gaan sit en hy het homself warm gemaak.

55. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad het iets gesoek om Jesus te beskuldig sodat hulle Hom kon doodmaak, maar hulle het niks gekry nie.

Lees volledige hoofstuk Markus 14