Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 14:32-44 Bybel vir Almal (ABA)

32. Jesus en sy dissipels kom toe by die plek Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil gaan bid.”

33. Hy het vir Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom geneem. Jesus het baie bang en ontsteld geword.

34. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker.”

35. Jesus het ’n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê om te bid. Hy het gebid dat die Vader Hom nie baie swaar moet laat kry nie. Maar Hy het gesê die Vader moet self besluit.

36. Hy het gebid: “Vader, my Vader, U kan alles doen wat U wil doen. Neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”

37. Jesus het teruggekom en toe sien Hy die drie dissipels slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Simon, slaap jy? Kon jy nie een uur wakker bly nie?

38. Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.”

39. Jesus het weer weggegaan en Hy het dieselfde woorde gebid.

40. Toe Hy terugkom, het Hy gesien die drie dissipels slaap weer, want hulle was baie vaak. Hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie.

41. Toe Jesus die derde maal by hulle kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Dit is nou klaar! Dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang.

42. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.”

43. Terwyl Jesus gepraat het, het Judas daar aangekom. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was ’n klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes en die familieleiers het hulle gestuur.

44. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal ’n man soen, dit is Jesus. Julle moet daardie man vang, julle moet hom wegvat en hom goed oppas.”

Lees volledige hoofstuk Markus 14