Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 12:28-44 Bybel vir Almal (ABA)

28. Een van die skrifgeleerdes het gehoor Jesus en die Sadduseërs praat met mekaar en hy het nader gekom. Toe hy hoor dat Jesus hulle goed geantwoord het, vra hy vir Jesus: “Wat is die belangrikste wet in die Ou Testament?”

29. Jesus het geantwoord: “Die belangrikste wet is: ‘Julle moet luister, mense van Israel, die Here ons God is die enigste Here,

30. en jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart en met jou hele lewe en met jou hele verstand en met al jou krag.’

31. Die tweede belangrike wet is: ‘Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Daar is nie ’n ander wet wat belangriker is nie.”

32. Die skrifgeleerde sê toe vir Jesus: “Jy het goed geantwoord, Meneer. Dit is waar wat jy sê: ‘Daar is net een God, daar is nie ’n ander God nie.’

33. Dit is belangrik ‘om vir God lief te wees met jou hele hart en met jou hele verstand en met al jou krag’ en ‘om lief te wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.’ Dit is belangriker as al die brand-offers en al die ander offers wat mense vir God gee.”

34. Toe Jesus hoor dat die skrifgeleerde goed geantwoord het, het Hy vir hom gesê: “Jy verstaan nou amper wat dit beteken dat God Koning is.”Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie.

35. Jesus het vir die mense in die tempel geleer en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom sê die skrifgeleerdes dat die Christus die Seun van Dawid is?

36. Dawid self het gesê wat die Heilige Gees vir hom gesê het:“Die Here het vir my Here,die Koning, gesê:Sit hier langs My,op die belangrikste plek.Ek sal jou vyande voor jou laat buigen jy sal jou voete op hulle sit.

37. “Dawid self noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?”Die groot klomp mense het graag na Jesus geluister.

38. Toe Jesus vir hulle geleer het, het Hy gesê: “Pasop vir die skrifgeleerdes. Hulle wil graag met deftige klere rondloop en hulle wil hê almal moet hulle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom.

39. Hulle wil graag sit op die belangrikste plekke in die sinagoges en by die feeste.

40. Maar die skrifgeleerdes is mense wat weduwees bedrieg en wat hulle huise vat. En hulle is mense wat baie lank bid sodat ander mense dit moet sien. God sal hulle baie swaar straf.”

41. Jesus het voor die dankoffer-kis in die tempel gaan sit en Hy het gekyk hoe al die mense koper geldstukke in die kis gooi. Baie ryk mense het baie geld ingegooi.

42. Daar kom toe ’n arm weduwee en sy gooi twee klein geldstukkies in. Dit was baie min geld.

43. Jesus het sy dissipels geroep en vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat geld in die dankoffer-kis gegooi het.

44. Die ryk mense het baie geld om in te gooi en daarna het hulle nog baie geld. Hierdie vrou is baie arm, maar sy het alles ingegooi, sy het nie meer geld om kos te koop nie.”

Lees volledige hoofstuk Markus 12