Ou Testament

Nuwe Testament

Markus 10:26-39 Bybel vir Almal (ABA)

26. Die dissipels was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “As dit so is, wie sal dan kan inkom waar God Koning is?”

27. Jesus het lank na hulle gekyk. Hy het gesê: “Mense kan nie self inkom nie, maar God kan hulle laat inkom. God kan alles doen wat Hy wil doen.”

28. Petrus het vir Jesus gesê: “Kyk na ons, ons het alles gelos wat ons gehad het en ons gaan saam met U.”

29. Jesus het gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand sy huis los, of sy broers of sy susters of sy ma of sy pa of sy kinders of sy grond waarop hy gewoon het, en hy doen dit omdat hy gehoorsaam is aan My en aan die goeie boodskap, dan sal hy baie meer kry.

30. Hy sal nou, in hierdie tyd, 100 maal meer kry as wat hy gehad het. Hy sal meer huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond kry. Die ander mense sal baie slegte dinge doen aan hom. Maar daar sal ’n nuwe tyd kom, en dan sal hy die ewige lewe kry.

31. “Baie mense wat nou belangrik is, sal dan onbelangrik wees, en mense wat nou onbelangrik is, sal dan belangrik wees.”

32. Jesus en sy dissipels was op die pad na Jerusalem. Jesus het ver voor hulle geloop. Die dissipels was verbaas toe hulle dit sien, en die mense wat hulle gevolg het, was bang. Jesus het weer met die twaalf dissipels gepraat. Hy het vir hulle begin vertel van die dinge wat met Hom sal gebeur.

33. Jesus het gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee,

34. en die heidene sal My spot en op My spoeg en My met ’n sweep slaan en My doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”

35. Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Jesus toe gekom en gesê: “Meneer, as ons vir U iets vra, dan moet U dit asseblief vir ons doen.”

36. Jesus het vir hulle gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?”

37. Hulle antwoord Hom toe: “U sal koning wees oor almal. Gee dan vir ons die sitplekke langs U, een regs langs U en een links langs U.”

38. Jesus het vir hulle gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink? Kan julle gedoop word soos Ek gedoop sal word?”

39. Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.”Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink, en julle sal gedoop word soos Ek gedoop sal word.

Lees volledige hoofstuk Markus 10