Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:49-62 Bybel vir Almal (ABA)

49. Johannes het vir Jesus gesê: “Meneer, ons het iemand gesien wat u Naam gebruik om duiwels uit mense te jaag. Ons het hom probeer keer omdat hy nie saam met ons by U is nie.”

50. Maar Jesus het vir Johannes gesê: “Julle moet hom nie keer nie, want as hy nie teen julle is nie, dan help hy vir julle.”

51. Dit was amper Jesus se tyd om na die hemel te gaan. Hy het besluit om na Jerusalem te gaan.

52. Hy het boodskappers gestuur en hulle het by ’n Samaritaanse dorpie gekom en vir die mense gevra hulle moet vir Jesus slaapplek en kos gereedmaak.

53. Maar die mense wou nie vir Jesus daar hê nie, omdat Hy na Jerusalem wou gaan.

54. Jakobus en Johannes, twee van Jesus se dissipels, het dit gesien, en hulle het vir Jesus gevra: “Here, wil U hê ons moet bid dat vuur uit die hemel kom en hierdie mense verbrand?”

55. Maar Jesus het omgedraai en met Jakobus en Johannes geraas.

56. Jesus en sy dissipels het toe na ’n ander dorpie gegaan.

57. Toe Jesus en sy dissipels besig was om na Jerusalem te gaan, het iemand vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, oral waar U gaan.”

58. Jesus sê toe vir hom: “Jakkalse woon in gate, en voëls het neste. Maar Ek, die Seun van die mens, het nie ’n plek waar Ek kan woon nie.”

59. Jesus het vir iemand anders gesê: “Kom saam met My.”Maar die man het gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, maar ek moet eers wag tot my pa dood is sodat ek hom kan begrawe.”

60. Maar Jesus het vir hom gesê: “Dit is belangriker om My te volg as om te wag totdat jy jou pa begrawe het. Jy moet vir die mense gaan vertel God is Koning.”

61. Iemand anders het ook vir Jesus gesê: “Ek sal saam met U gaan, maar ek wil asseblief eers vir my familie gaan totsiens sê.”

62. Maar Jesus het vir hom gesê: “Iemand wat begin ploeg en aanhou om agtertoe te kyk, is nie gereed om vir God te werk nie, God wat Koning is.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 9