Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 9:22-34 Bybel vir Almal (ABA)

22. Hy het ook gesê dat die familieleiers, die priesterleiers en die skrifgeleerdes baie slegte dinge sal doen aan Hom, die Seun van die mens. Hulle sal Hom nie aanvaar nie, hulle sal Hom doodmaak, maar op die derde dag sal God Hom weer laat lewe.

23. Jesus het vir al die mense gesê: “As iemand saam met My wil kom, dan moet hy nie dink aan wat hy self graag wil hê nie. Hy moet elke dag lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis sterf. Dit is hoe hy My moet volg.

24. Want as iemand homself wil red, dan sal hy sy lewe verloor. Maar as iemand sy lewe verloor omdat hy lief is vir My, dan sal hy sy lewe red.

25. As jy alles in die wêreld kry maar jy verloor jou lewe vir altyd, dan help dit jou niks.

26. As iemand My nie wil ken nie en nie wil glo wat Ek sê nie, dan sal Ek, die Seun van die mens, hom ook nie wil ken nie. Ek sal hom nie wil ken nie wanneer Ek saam met die heilige engele kom en Koning is soos my Vader Koning is.

27. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat hier staan, sal sien dat God Koning is, hulle sal dit sien voordat hulle sterf.”

28. Omtrent ag dae nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy vir Petrus, Johannes en Jakobus saam met Hom geneem. Hy het teen ’n berg opgegaan om daar te bid.

29. Jesus se gesig het anders begin lyk terwyl Hy besig was om te bid. Sy klere het baie wit geword en dit het geblink.

30. Skielik was daar twee mans wat met Jesus gepraat het. Dit was Moses en Elia,

31. en hulle het soos konings gelyk. Hulle het gepraat oor Jesus wat ’n paar dae later in Jerusalem sou sterf.

32. Petrus, Johannes en Jakobus het aan die slaap geraak. Hulle het later wakker geskrik en hulle het vir Jesus en die twee mans by Hom gesien. Jesus het ook soos ’n koning gelyk.

33. Moses en Elia het gereedgemaak om weg te gaan van Jesus, en Petrus het vir Jesus gesê: “Meneer, dit is goed dat ons hier is. Ons moet drie tente opslaan, een tent vir U, een tent vir Moses en een tent vir Elia.”Petrus het nie besef wat hy sê nie.

34. Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar ’n wolk wat vir hulle almal toegemaak het. Die drie dissipels het bang geword toe die wolk oor hulle kom.

Lees volledige hoofstuk Lukas 9