Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 24:14-28 Bybel vir Almal (ABA)

14. Hulle het met mekaar gepraat oor alles wat gebeur het met Jesus.

15. Terwyl hulle daaroor wonder en praat, het Jesus self nader gekom en saam met hulle geloop.

16. Maar hulle het nie gesien dit is Jesus nie, God het hulle dit nie laat sien nie.

17. Jesus het vir hulle gevra: “Waaroor loop en praat julle met mekaar?”Die twee mans het gaan staan. Hulle was baie hartseer.

18. Kleopas, een van die mans, het vir Jesus gevra: “Woon jy nie in Jerusalem nie? Weet jy nie van al die dinge wat hier gebeur het in die dae wat verby is nie?”

19. Jesus het vir hulle gevra: “Watter dinge?”Hulle sê toe vir Jesus: “Al die dinge wat gebeur het met Jesus, die man van Nasaret. Jesus was ’n profeet. Hy het wonderlike dinge gedoen en gesê. God was by Hom en al die mense het van Hom geweet.

20. Maar die priesterleiers en die leiers van ons volk het niks daarvan gehou nie. Hulle het vir Jesus gaan beskuldig by Pilatus, hulle wou hê Pilatus moet sê dat Jesus moet sterf. Toe het hulle vir Jesus gekruisig.

21. Ons het gehoop Jesus is die Messias wat die volk Israel kon vrymaak. Maar dit het nie gebeur nie, want Jesus het drie dae gelede gesterf.

22-23. ’n Paar vroue wat by ons is, het vroeg die oggend by die graf gekom en hulle het nie Jesus se liggaam daar gekry nie. Ons was verbaas daaroor. Die vroue sê ook hulle het engele gesien en die engele het gesê Jesus lewe.

24. Party ander mense wat by ons is, het ook na die graf gegaan. Hulle het gesien alles is presies soos die vroue gesê het. Maar hulle het nie vir Jesus gesien nie.”

25. Toe sê Jesus vir die twee mans: “Hoekom verstaan julle nie wat gebeur het nie? Hoekom wil julle nie glo wat die profete gesê het nie?

26. Die profete het gesê die Christus moet eers swaarkry en dan sal Hy Koning word.”

27. Toe het Jesus begin om vir hulle te verduidelik wat die boeke van Moses en die profete en die ander boeke van die Ou Testament oor Hom sê.

28. Toe hulle naby die dorpie kom waarnatoe hulle geloop het, het Jesus gemaak of Hy verder wil loop.

Lees volledige hoofstuk Lukas 24