Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:38-51 Bybel vir Almal (ABA)

38. Bo-aan die kruis het hulle op ’n plank geskryf hoekom hulle vir Jesus gekruisig het. Hulle het daarop geskryf: “Hierdie man is die koning van die Jode.”

39. Een van die skelms wat langs Jesus aan ’n kruis gehang het, wou vir Jesus verneder en hy het gesê: “O, jy sê jy is die Christus. Dan moet jy jouself red en ook vir ons.”

40. Maar die ander skelm het gesê hy moet stilbly. Hy het gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Want hulle straf jou soos hulle vir Jesus straf.

41. Dit is reg dat hulle ons straf, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar Jesus het niks verkeerd gedoen nie.”

42. Toe sê hy vir Jesus: “Jesus, dink aan my wanneer God vir U Koning maak.”

43. En Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

44. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag.

45. Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur.

46. En Jesus het hard gesê: “Vader, Ek gee myself vir U.”Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf.

47. Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.”

48. Daar was baie mense wat kom kyk het wat gebeur. Hulle was jammer dat dit gebeur het en hulle het hulleself op die bors geslaan. Toe het hulle teruggegaan na hulle huise in die stad.

49. Maar al die mense wat vir Jesus geken het, ook die vroue wat saam met Jesus van Galilea gekom het, het daar gebly staan, ’n bietjie verder weg. Almal, ook die vroue, het gesien hoe Jesus sterf en wat alles gebeur.

50. Daar was ’n man, sy naam was Josef. Hy was ’n lid van die Joodse Raad en hy was ’n goeie man wat gehoorsaam was aan al die Wette van Moses.

51. Josef het gedink die Raad het verkeerd besluit oor Jesus. Josef het gekom van die Joodse stad Arimatea. Hy het ook gewag dat die tyd sal kom wanneer God Koning sal wees oor almal.

Lees volledige hoofstuk Lukas 23