Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 23:14-31 Bybel vir Almal (ABA)

14. Hy het vir hulle gesê: “Julle het vir my hierdie man gebring en gesê hy maak die mense opstandig. Ek het geluister na wat hy sê, maar ek kon niks kry wat wys dat hy skuldig is nie.

15. Herodes kon ook niks kry wat hy verkeerd gedoen het nie, want hy het vir Jesus teruggestuur na my toe. Jesus het niks verkeerd gedoen nie, ek kan hom nie laat doodmaak nie.

16. Daarom sal ek hom laat slaan, en dan sal ek hom uit die tronk laat kom.”

18. Maar toe het almal geskree: “Jy moet hierdie man wegvat. Ons wil hê jy moet vir Barabbas uit die tronk laat kom.”

19. Barabbas was in die tronk omdat hy die leier was van mense wat in Jerusalem opstandig geword het teen die Romeinse regering, en omdat hy iemand vermoor het.

20. Pilatus het weer met die Joodse leiers en met die mense gepraat, want hy wou graag vir Jesus uit die tronk laat kom.

21. Maar die mense het geskree: “Kruisig hom, kruisig hom!”

22. Pilatus het ’n derde maal met die mense gepraat. Hy het gesê: “Sê vir my, wat het hierdie man gedoen wat verkeerd is? Ek kan niks kry waaroor hy moet sterf nie. Ek sal hom laat slaan, en dan sal ek hom uit die tronk laat kom.”

23. Maar die mense het aangehou om hard te skree dat Pilatus vir Jesus moet laat kruisig. Hulle het so baie geskree

24. dat Pilatus besluit het om te doen wat hulle vra.

25. Hy het vir Barabbas laat uitkom, Barabbas wat in die tronk was omdat hy die leier was van mense wat opstandig was teen die Romeinse regering, en omdat hy iemand vermoor het. Pilatus het gedoen wat die mense gevra het, hy het gesê Jesus moet sterf, want dit is wat die mense wil hê.

26. Die soldate het vir Jesus weggevat. Daar het ’n man van buite die stad gekom, sy naam was Simon, hy was van die stad Sirene. Die soldate het hom gevat en hulle het Jesus se kruis op hom gesit. Hulle het vir hom gesê hy moet agter Jesus loop en hy moet die kruis dra.

27. Baie mense het agter Jesus geloop. Party van die vroue het hulleself op die bors geslaan en hulle het oor Jesus gehuil.

28. Toe draai Jesus om en sê vir hulle: “Vroue van Jerusalem, julle moenie oor My huil nie. Julle moet oor julleself huil en oor julle kinders.

29. Julle moet weet, daar sal ’n tyd kom wanneer die mense sal sê vroue wat nie kinders kan hê nie, en ook vroue wat nooit kinders gehad het nie, is gelukkige mense.”

30. Jesus het ook gesê: “In daardie tyd sal die mense vir die berge en die heuwels sê: ‘Julle moet op ons val! Julle moet ons toemaak!’

31. Ek sê dit, want Ek is onskuldig, en kyk wat gebeur met My. Julle kan self dink wat sal gebeur met Jerusalem, Jerusalem wat skuldig is.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 23