Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 22:33-44 Bybel vir Almal (ABA)

33. Petrus het vir Jesus gesê: “Here, ek sal saam met U gaan, ook as U tronk toe moet gaan en moet sterf, dan sal ek saam met U gaan.”

34. Jesus sê toe vir hom: “Petrus, jy sal drie maal sê jy ken nie vir My nie, jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.”

35. Toe sê Jesus vir die dissipels: “Kan julle onthou, toe Ek julle na die mense toe gestuur het, het Ek gesê julle moenie ’n beursie of ’n rugsak of sandale saamneem nie? Het julle toe iets nodig gekry?”Die dissipels het geantwoord: “Nee, niks.”

36. Jesus het vir hulle gesê: “Maar nou is dit anders. As iemand ’n beursie het, dan moet hy dit saamneem. En as hy ’n rugsak het, dan moet hy dit saamneem. As hy nie ’n swaard het nie, dan moet hy sy bo-kleed verkoop en ’n swaard koop.

37. Want Ek sê vir julle, nou sal waar word wat die profeet Jesaja gesê het. Hy het gesê: ‘Die mense het gedink hy is een van die mense wat ongehoorsaam is aan God.’ Ja, al die dinge wat hulle oor my lewe geskryf het, sal nou gebeur.”

38. Toe sê die dissipels: “Here, kyk ons het twee swaarde.”Maar Jesus het gesê: “Nee, daaroor sal ons nie weer praat nie.”

39. Jesus het uitgegaan na die Olyf-berg. Hy het dit elke aand gedoen vandat Hy in Jerusalem gekom het. Die dissipels het saam met Hom gegaan.

40. Toe hulle by die Olyf-berg kom, het Jesus vir die dissipels gesê: “Julle moet bid dat julle sal aanhou om My te volg, ook wanneer julle swaarkry.”

41. Jesus het ’n bietjie verder van die dissipels gaan staan, omtrent so ver soos ’n mens met ’n klip kan gooi. Hy het gekniel en gebid

42. en gesê: “Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.”

43. Toe kom daar ’n engel uit die hemel. Hy het aan Jesus verskyn en vir Hom krag gegee.

44. Daarna het Jesus baie bang geword en Hy het baie ernstig gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword en dit het op die grond gedrup.

Lees volledige hoofstuk Lukas 22