Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 21:11-24 Bybel vir Almal (ABA)

11. Daar sal groot aardbewings wees, op baie plekke sal daar hongersnood wees. Baie mense sal siek word en sterf. Daar sal vreeslike dinge gebeur, en daar sal tekens in die lug wees, tekens wat ’n mens bangmaak.

12. Maar voor al hierdie dinge gebeur, sal die mense julle vang en hof toe vat in die sinagoges, en hulle sal julle in die tronk gooi. Hulle sal julle ook hof toe vat voor konings en goewerneurs omdat julle aan My behoort.

13. Dan kan julle vir hulle van My vertel.

14. Julle moet besluit om nie voor die tyd gereed te maak vir wat julle sal sê wanneer julle in die hof kom nie,

15. want Ek sal vir julle sê wat julle moet sê. Julle sal soos wyse mense praat en julle vyande sal nie weet wat om te antwoord nie, hulle sal nie kan sê julle praat verkeerd nie.

16. Ook julle ouers, julle broers, julle familie en julle vriende sal vir julle hof toe vat. Hulle sal party van julle ook doodmaak.

17. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort.

18. Maar julle sal nie verlore gaan nie, nie een haar van julle kop sal verlore gaan nie.

19. As julle aanhou glo, dan sal julle die ewige lewe kry.”

20. “Wanneer julle sien die soldate van die vyande is rondom Jerusalem, dan moet julle weet dit is nog net ’n kort tydjie, dan sal die vyande Jerusalem verwoes.

21. Wanneer dít gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. En die mense in Jerusalem moet weghardloop. En die mense buite die stad moenie na Jerusalem kom nie.

22. Want dit sal ’n tyd wees wanneer God die mense van Jerusalem sal straf, sodat alles kan gebeur wat in die Ou Testament geskryf is.

23. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat babas verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Want die mense in die land Judea sal swaarkry, God sal dan begin om hulle swaar te straf.

24. Die vyande sal party mense van Judea doodmaak. En hulle sal ander mense vang en wegvat na al die ander volke van die wêreld. Ander mense sal in Jerusalem kom woon en hulle sal die stad ontwy. En al hierdie dinge sal aanhou totdat die tyd kom wanneer die Here die volke sal straf.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 21