Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 20:35-47 Bybel vir Almal (ABA)

35. Maar wanneer God Koning is, dan sal Hy die mense wat in Hom glo en wat gesterf het, weer laat lewe. Dan sal mense nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie.

36. Want hulle sal wees soos die engele wat nie sterf nie en wat by God in die hemel woon. Maar dit kan net gebeur as God hulle weer laat lewe.

37. Moses het ook vir ons gesê mense wat gesterf het, sal weer lewe. Hy het geskryf oor die bos wat gebrand het. Daar sê Moses die Here is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.

38. God is nie die God van dooie mense nie, Hy is die God van mense wat lewe. Want vir God is almal wat in Hom glo, mense wat lewe.”

39. Party van die skrifgeleerdes het vir Jesus gesê: “Meneer, jy het goed geantwoord.”

40. Die mense wou toe nie weer vir Jesus iets vra nie.

41. Jesus het vir die mense gevra: “Hoekom sê die mense die Christus is die Seun van Dawid?

42. Want Dawid self sê in die boek van die Psalms:“Die Here het vir my Here,die Koning, gesê:Sit hier langs My,op die belangrikste plek,

43. Ek sal jou vyandevoor jou laat buig,en jy sal jou voete op hulle sit.

44. “Dawid noem die Christus ‘Here.’ Hoe kan die Christus dan Dawid se seun wees?”

45. Toe sê Jesus vir sy dissipels terwyl al die mense Hom kan hoor:

46. “Pasop vir die skrifgeleerdes. Hulle wil graag met deftige klere rondloop en hulle wil hê almal moet hulle groet op die plekke in die stad waar die mense bymekaarkom. Hulle wil graag sit op die belangrikste plekke in die sinagoges en by die feeste.

47. Maar die skrifgeleerdes is mense wat weduwees bedrieg en wat hulle huise vat. En hulle is mense wat baie lank bid sodat ander mense dit moet sien. God sal hulle baie swaar straf.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 20