Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 17:21-32 Bybel vir Almal (ABA)

21. Mense sal nie kan sê: ‘Kom kyk hier,’ of ‘Gaan kyk daar, dan sal julle sien God is Koning’ nie. Nee, julle kan nou sien God is Koning, want Ek is by julle en Ek doen die werk van God.”

22. Toe praat Jesus met die dissipels en Hy sê: “Daar sal ’n tyd kom wanneer julle sal wens dat julle net een maal kan sien die Seun van die mens is Koning, maar julle sal dit nie sien nie.

23. Ja, die mense sal vir julle sê: ‘Gaan kyk daar’ of ‘Kom kyk hier.’ Maar julle moenie gaan nie, julle moenie saam met hulle gaan nie.

24. Wanneer die Seun van die mens kom, dan sal dit wees soos wanneer ’n weerligstraal alles lig maak, van die een kant van die lug tot by die ander kant.

25. Maar Ek, die Seun van die mens, moet eers baie swaar kry, en die mense wat nou lewe, moet eers weier om My te aanvaar.

26. Wanneer die Seun van die mens kom, dan sal dit wees soos in die tyd toe Noag gelewe het.

27. In daardie tyd het die mense aangehou om te eet en te drink en te trou en hulle kinders te laat trou tot die dag toe Noag in die ark ingegaan het. Toe het die watervloed gekom en alles verwoes.

28. In die tyd toe Lot gelewe het, was dit ook so. Die mense het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou.

29. Maar die dag toe Lot uit Sodom weggegaan het, het daar vuur en swael uit die hemel gereën en dit het alles verwoes.

30. So sal dit ook wees die dag wanneer God vir die mense sal wys wie is die Seun van die mens.

31. As iemand daardie dag op sy huis se dak sit, dan moet hy nie afkom om sy goed in die huis te red nie. So ook, as daar iemand in die koringland is, dan moet hy nie omdraai nie.

32. Julle moet onthou wat met Lot se vrou gebeur het.

Lees volledige hoofstuk Lukas 17