Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 14:20-30 Bybel vir Almal (ABA)

20. ’n Ander man het gesê: ‘Ek het getrou en daarom kan ek nie kom nie.’

21. Die slaaf het teruggegaan en hy het vir sy eienaar alles vertel wat die mense gesê het. Die eienaar het kwaad geword en hy het vir sy slaaf gesê: ‘Gaan nou na die strate en smal paadjies van die stad, en bring die arm mense, die kreupeles, die blindes en die verlamdes hiernatoe.’

22. Die slaaf het dit gedoen en hy het vir die eienaar gesê: ‘Meneer, ek het gedoen wat jy gesê het, en daar is nog plek in die huis.’

23. Die eienaar sê toe vir die slaaf: ‘Gaan na die hoofpaaie en die klein paadjies en sê vir die mense hulle móét na my fees kom, sodat my huis vol kan wees.

24. Ek sê vir julle, nie één van daardie mense wat ek eerste genooi het, sal van my kos kry nie.’ ”

25. Daar was baie mense wat saam met Jesus na Jerusalem gegaan het. Jesus draai toe om en Hy sê vir hulle:

26. “As iemand na My toe kom en hy is minder lief vir My as vir sy pa en ma en vrou en kinders en broers en susters en vir homself, dan kan hy nie my dissipel wees nie.

27. As iemand saam met My wil kom, dan moet hy lewe soos iemand wat weet hy sal aan ’n kruis hang en sterf. As hy dit nie wil doen nie, dan kan hy nie my dissipel wees nie.

28. ’n Mens moet voor die tyd weet hoeveel iets gaan kos. ’n Man wat ’n wagtoring wil bou, moet eers gaan sit en dink hoeveel dit sal kos, hy moet kyk of hy genoeg geld het om dit klaar te bou.

29. As hy nie genoeg geld het nie, dan sal hy net die fondament kan bou, hy sal nie die toring kan klaar bou nie. Almal wat dit sien, sal hom spot

30. en sê: ‘Hierdie man het begin om iets te bou, maar hy kon dit nie klaarmaak nie.’

Lees volledige hoofstuk Lukas 14