Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 12:46-59 Bybel vir Almal (ABA)

46. En eendag wanneer die slaaf dit nie verwag nie, kom die eienaar skielik terug. Dan sal die eienaar daardie slaaf baie swaar straf, hy sal hom straf soos God mense straf wat nie doen wat Hy wil hê nie.

47. Daar is slawe wat presies weet wat hulle eienaar wil hê, maar hulle doen dit nie en hulle is nie altyd gereed nie. Die eienaar sal hierdie slawe swaar straf.

48. Maar daar is ook slawe wat nie goed weet wat hulle eienaar wil hê nie. As hulle doen wat verkeerd is, dan sal die eienaar hulle nie swaar straf nie. ’n Eienaar wat vir ’n slaaf baie gegee het, wil baie kry wanneer hy terugkom, en as die eienaar gesê het die slaaf moet iets doen, dan wil hy hê die slaaf moet baie meer doen. Dit wil God ook van julle hê.”

49. “Ek het gekom om vuur op die aarde te gooi, en Ek wens die vuur het al klaar begin brand.

50. God sal My baie swaar laat kry, en Ek sal bekommerd en bang bly totdat dit gebeur het.

51. Dink julle Ek het gekom om vrede te bring op die aarde? Nee, Ek sê vir julle: Ek het gekom, en nou twis mense met mekaar.

52. Van nou af sal daar vyf mense in een huis wees wat twis, drie mense teen twee, en twee mense teen drie.

53. ’n Pa sal twis met sy seun, en ’n seun sal twis met sy pa. ’n Ma sal twis met haar dogter, en ’n dogter sal twis met haar ma. ’n Skoonma sal twis met haar skoondogter, en ’n skoondogter sal twis met haar skoonma.”

54. Toe sê Jesus ook vir die mense: “Wanneer julle ’n wolk in die weste sien, dan sê julle dadelik: ‘Dit sal reën.’ En julle is reg, dit gebeur.

55. En wanneer julle sien die suidewind waai, dan sê julle: ‘Dit sal vandag baie warm wees.’ En dit gebeur ook so.

56. Julle skynheiliges, julle verstaan goed wat in die natuur gebeur, maar julle verstaan nie die dinge wat nou gebeur nie.

57. Julle weet goed wat die regte ding is om te doen. Hoekom doen julle dit nie?

58. Wanneer iemand jou hof toe vat, en julle loop hof toe, dan moet jy alles doen wat jy kan om vrede te maak met die een wat jou hof toe vat. As jy dit nie doen nie, dan sal hy jou vat tot by die regter, en die regter sal sê die polisie moet jou in die tronk toesluit.

59. Ek sê vir jou, jy sal nie uit die tronk uitkom nie. Jy sal eers alles moet betaal wat jy skuld.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 12