Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 11:16-25 Bybel vir Almal (ABA)

16. Ander mense wou vir Jesus toets, hulle wou hê Jesus moet bewys dat Hy van God kom. Hulle wou hê Hy moet vir hulle ’n wonderteken wys.

17. Maar Jesus het geweet wat hulle dink, en daarom het Hy vir hulle gesê: “Vyande sal enige land oorwin waar die mense nie met mekaar kan saamwerk nie. Hulle sal al die huise afbreek, die een huis ná die ander huis.

18. As die Satan teen homself is, dan kan hy niks meer doen nie en hy kan oor niemand regeer nie. Julle sê Beëlsebul help My om die duiwels uit te jaag.

19. En as Beëlsebul My help om duiwels uit te jaag uit mense, wie help vir julle leerlinge om duiwels uit mense uit te jaag? Julle eie leerlinge bewys dat julle verkeerd is.

20. Dit is die krag van God wat My help om duiwels uit te jaag. Dit bewys dat God die Koning is wat begin het om oor julle te regeer.

21. ’n Sterk man wat baie wapens het en wat sy huis goed oppas, sy goed is veilig.

22. Maar as ’n ander man wat sterker is, hom aanval en wen, dan vat die sterker man al die wapens wat die sterk man gedink het sal hom help en beskerm. Dan gee die sterker man alles wat hy gevat het, vir ander mense.

23. Iemand wat nie vir My is nie, is teen My. Iemand wat My nie help om mense na God toe te bring nie, jaag die mense weg van Hom.”

24. “Wanneer ’n onrein gees uit ’n mens uitgaan, dan gaan hy deur plekke waar daar nie water is nie en hy soek ’n plek waar hy kan woon. As hy nie ’n plek kry waar hy kan woon nie, dan sê hy: ‘Ek sal teruggaan na my eerste huis, die mens in wie ek gewoon het.’

25. Dan kom die onrein gees terug na daardie mens toe, en hy sien daardie mens is soos ’n huis wat skoon en netjies is.

Lees volledige hoofstuk Lukas 11