Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10:16-27 Bybel vir Almal (ABA)

16. Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Wanneer die mense na julle luister, dan luister hulle na My. Die mense wat hulle rug draai na julle toe, draai hulle rug na My toe. En die mense wat hulle rug draai na My toe, draai hulle rug na God toe wat My gestuur het.”

17. Die 72 dissipels het teruggekom en hulle was bly en opgewonde oor alles wat gebeur het. Hulle het vir Jesus gesê: “Here, ook die duiwels luister na ons wanneer ons u Naam gebruik om hulle uit mense te jaag.”

18. Toe sê Jesus vir hulle: “Ek het gesien hoe die Satan skielik uit die hemel val, soos wanneer weerlig uit die hemel kom.

19. Onthou, Ek het vir julle gesê julle kan op slange en skerpioene trap, en hulle sal niks aan julle kan doen nie. Ook as my vyand, die Satan, probeer om julle aan te val, sal hy niks kan doen aan julle nie.

20. Julle moet bly wees, maar moenie net bly wees omdat die bose geeste na julle luister nie. Julle moet meer bly wees omdat God julle name opgeskryf het in die hemel.”

21. In daardie tyd het die Heilige Gees in Jesus gekom. Jesus het gejuig en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie. Ja, Vader, U het dit so gedoen omdat U dit so wou doen.”

22. Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig die Seun van God nie, net die Vader ken Hom. En niemand ken regtig die Vader nie, net die Seun van God ken die Vader. En net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader.”

23. Toe draai Jesus om na sy dissipels en Hy praat net met hulle en sê: “Julle is gelukkig, julle wat al hierdie dinge sien.

24. Want Ek sê vir julle: Baie profete en konings wou graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. Hulle wou ook graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.”

25. Daar het ’n skrifgeleerde na Jesus toe gekom. Hy wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee en hy het vir Hom gevra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?”

26. Jesus het vir hom gevra: “Wat het God in sy wette geskryf? Wat lees jy in die wette?”

27. Die skrifgeleerde antwoord toe: “Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart, met jou hele lewe, met al jou krag, en met jou hele verstand. Jy moet ook vir jou naaste lief wees soos jy lief is vir jouself.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 10