hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6
  7. 7
  8. 8
  9. 9
  10. 10
  11. 11
  12. 12
  13. 13
  14. 14
  15. 15
  16. 16
  17. 17
  18. 18
  19. 19
  20. 20
  21. 21
  22. 22
  23. 23
  24. 24

Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 10 Bybel vir Almal (ABA)

Jesus stuur 72 dissipels om te gaan preek

1. Jesus het nog 72 ander dissipels gekies. Hy het hulle twee-twee voor Hom gestuur na al die stede en plekke waarnatoe Hy self later wou gaan.

2. Jesus sê toe vir die 72 dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen. Die ryp koring is die mense wat aan die Here behoort. Julle moet bid tot Hom, en julle moet vra dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring af te sny.

3. Gaan nou, maar onthou, Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal wees soos skape wat tussen gevaarlike wolwe is.

4. Moenie beursies saamneem nie. Julle moet ook nie rugsakke en sandale saamneem nie. En julle moenie tyd mors en vir almal op die pad vra hoe dit gaan nie.

5. Wanneer julle in ’n huis kom, dan moet julle eers sê: ‘God gee vir hierdie huis vrede.’

6. “As daar iemand in die huis woon wat vrede wil hê, dan sal die vrede by hom bly. Maar as daar niemand in die huis is wat die vrede wil hê nie, dan sal God nie vir daardie huis vrede gee nie.

7. Julle moet bly by die mense wat God se vrede wil hê, en julle moet eet en drink wat hulle vir julle gee. Julle moet onthou:“Wanneer iemand werk,dan moet jy hom beloon.“Moenie skuldig voel wanneer die mense goed is vir julle nie, want onthou, julle werk vir die Here. Julle moenie elke maal in ’n ander huis gaan bly nie.

8. As julle in ’n stad kom en die mense sê julle is welkom, dan moet julle eet wat die mense vir julle gee.

9. Julle moet die siek mense in daardie stad gesond maak. Julle moet vir hulle sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’

10. Maar as julle in ’n stad kom en die mense sê julle mag nie daar bly nie, dan moet julle in die strate uitgaan en sê:

11. ‘Ons gaan nou weg en ons vee nou ook julle stad se stof van ons voete af. Dit is vir julle die teken dat God ook nou weggaan van julle. Maar julle moet weet: Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’

12. Ek sê vir julle, wanneer God die mense sal oordeel, dan sal dit beter gaan met die stad Sodom as met daardie stad.

13. Dit sal sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle gewys het hulle het verander en hulle wil begin lewe soos God wil hê.

14. Die dag wanneer God sal oordeel, sal God die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle.

15. En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel.”

16. Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Wanneer die mense na julle luister, dan luister hulle na My. Die mense wat hulle rug draai na julle toe, draai hulle rug na My toe. En die mense wat hulle rug draai na My toe, draai hulle rug na God toe wat My gestuur het.”

Die 72 dissipels kom terug

17. Die 72 dissipels het teruggekom en hulle was bly en opgewonde oor alles wat gebeur het. Hulle het vir Jesus gesê: “Here, ook die duiwels luister na ons wanneer ons u Naam gebruik om hulle uit mense te jaag.”

18. Toe sê Jesus vir hulle: “Ek het gesien hoe die Satan skielik uit die hemel val, soos wanneer weerlig uit die hemel kom.

19. Onthou, Ek het vir julle gesê julle kan op slange en skerpioene trap, en hulle sal niks aan julle kan doen nie. Ook as my vyand, die Satan, probeer om julle aan te val, sal hy niks kan doen aan julle nie.

20. Julle moet bly wees, maar moenie net bly wees omdat die bose geeste na julle luister nie. Julle moet meer bly wees omdat God julle name opgeskryf het in die hemel.”

Die Seun prys die Vader

21. In daardie tyd het die Heilige Gees in Jesus gekom. Jesus het gejuig en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie. Ja, Vader, U het dit so gedoen omdat U dit so wou doen.”

22. Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig die Seun van God nie, net die Vader ken Hom. En niemand ken regtig die Vader nie, net die Seun van God ken die Vader. En net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader.”

23. Toe draai Jesus om na sy dissipels en Hy praat net met hulle en sê: “Julle is gelukkig, julle wat al hierdie dinge sien.

24. Want Ek sê vir julle: Baie profete en konings wou graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. Hulle wou ook graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.”

Die barmhartige Samaritaan

25. Daar het ’n skrifgeleerde na Jesus toe gekom. Hy wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee en hy het vir Hom gevra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?”

26. Jesus het vir hom gevra: “Wat het God in sy wette geskryf? Wat lees jy in die wette?”

27. Die skrifgeleerde antwoord toe: “Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart, met jou hele lewe, met al jou krag, en met jou hele verstand. Jy moet ook vir jou naaste lief wees soos jy lief is vir jouself.”

28. Toe sê Jesus vir hom: “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, en jy sal die ewige lewe kry.”

29. Maar die skrifgeleerde wou wys dat hy slimmer is as Jesus. Daarom vra hy toe vir Jesus: “Maar wie is my naaste?”

30. Jesus het vir hom gesê: “’n Man het van Jerusalem na Jerigo geloop. Op daardie pad het manne hom aangeval. Hulle het sy klere uitgetrek en hom geslaan en sy goed gesteel. Toe hardloop hulle weg en los hom daar. Hy was amper dood.

31. Daar het toe ’n priester op dieselfde pad geloop. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad.

32. ’n Leviet het ook daar verbygeloop en hy het dieselfde gedoen. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad.

33. ’n Samaritaan het daar aangekom op dieselfde pad. Toe hy by die man kom en hom sien, was hy baie jammer vir hom.

34. Hy het nader gegaan, hy het die man se seerplekke toegedraai, en olyf-olie en wyn daarop gegooi. Die Samaritaan het sy donkie nader gebring. Hy het die man op die donkie laat ry en hy het hom na ’n herberg geneem. Daar het hy goed vir hom gesorg.

35. Die volgende dag het hy twee silwer geldstukke uitgehaal, en hy het dit vir die eienaar van die herberg gegee. Hy het vir hom gesê: ‘Jy moet goed sorg vir die man, en as hierdie geld nie genoeg is nie, dan sal ek vir jou nog gee wanneer ek weer hier verbykom.’ ”

36. Jesus vra toe vir die skrifgeleerde: “Wat dink jy? Wie van hierdie drie mense het ’n naaste geword van die man vir wie daardie manne aangeval het?”

37. Die skrifgeleerde het gesê: “Daardie man wat jammer was vir hom en wat hom gehelp het.”Toe sê Jesus vir die skrifgeleerde: “Gaan, en doen wat die Samaritaan gedoen het.”

Jesus kuier by Marta en Maria

38. Jesus en sy dissipels het verder gegaan. Hulle kom toe by ’n dorpie. ’n Vrou het Hom genooi om in haar huis te kom. Die vrou se naam was Marta.

39. Haar suster se naam was Maria. Maria het by die voete van die Here gaan sit en sy het geluister na alles wat Hy sê.

40. Maar Marta was baie besig om vir al die mense in die huis kos te gee. Sy kom toe na Jesus toe en sê: “Here, my suster los my alleen om al die mense te bedien. Dink U dit is reg? Sê vir haar sy moet my kom help.”

41. Maar die Here het vir haar gesê: “Marta, Marta, jy is bekommerd oor so baie dinge en jy maak jou moeg daaroor.

42. Maar daar is een ding wat belangriker is as alles, en Maria het hierdie een ding gekies, en niemand sal dit wegneem van haar nie.”