Ou Testament

Nuwe Testament

Lukas 1:8-20 Bybel vir Almal (ABA)

8. Dit was eendag die beurt van Abia se groep priesters om die werk in die tempel te doen.

9. Die priesters het altyd lootjies getrek om te sien wie moes ingaan om die wierook-offer te bring. Dit was toe Sagaria wat moes ingaan in die gewyde kamer van die tempel van die Here.

10. Toe Sagaria ingaan om die wierook-offer te bring, het al die mense buite gebly en gebid.

11. ’n Engel van die Here het gekom en hy het aan Sagaria verskyn. Die engel het regs van die wierook-altaar gestaan.

12. Sagaria het groot geskrik toe hy die engel sien en hy het baie bang geword.

13. Maar die engel het vir hom gesê: “Sagaria, jy moenie bang wees nie, God het geluister na jou gebed. Jou vrou Elisabet sal ’n seun kry, en jy moet hom Johannes noem.

14. Jy sal baie bly wees en baie ander mense sal bly wees wanneer hy gebore word,

15. want hy sal belangrik wees vir die Here. Hy mag nie wyn of bier drink nie. Die Heilige Gees sal in hom wees vandat sy ma swanger geword het.

16. Hy sal baie Israeliete laat terugkom na die Here hulle God.

17. Johannes sal ’n profeet van God wees. Hy sal dapper en sterk wees, soos Elia. Hy sal vrede maak tussen pa’s en hulle kinders. Hy sal ongehoorsame mense laat doen wat God wil hê. Dan sal hulle ’n volk wees wat reg is om God te dien.”

18. Sagaria het vir die engel gesê: “Hoe sal ek weet dat dit sal gebeur? Ek is ’n ou man en my vrou is ook baie oud.”

19. Die engel het vir hom gesê: “Ek is die engel Gabriël, ek werk vir God. God het my gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie goeie boodskap te bring.

20. Die boodskap wat ek vir jou gebring het, is waar. Dit sal gebeur. Maar jy het my nie geglo nie, en daarom sal jy stom wees en jy sal nie kan praat nie, tot die dag wanneer hierdie dinge sal gebeur.”

Lees volledige hoofstuk Lukas 1