Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:40-59 Bybel vir Almal (ABA)

40. Maar nou wil julle My doodmaak, en dit is Ek wat vir julle die waarheid vertel het wat Ek by God gehoor het. Abraham het nie dit gedoen nie.

41. Nee, julle doen dinge wat julle vader doen.”Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is nie buite-egtelike kinders nie. Ons het net een Vader. Dit is God!”

42. Jesus het vir hulle gesê: “God is nie julle Vader nie, want julle is nie lief vir My nie. Ek het van God gekom en Ek is nou hier by julle. Ek het nie self besluit om te kom nie. Nee, God het My na die wêreld gestuur.

43. Hoekom verstaan julle nie wat Ek vir julle sê nie? Dit is omdat julle nie regtig wil luister na wat Ek sê nie.

44. Die duiwel is julle vader en julle wil doen wat hy wil hê julle moet doen. Van die begin van die wêreld maak die duiwel mense dood. Hy praat nie die waarheid nie, want hy weet niks van die waarheid nie. Die duiwel lieg altyd, hy kan niks anders doen nie. Hy lieg en hy laat mense lieg.

45. Julle glo My nie, want Ek praat die waarheid.

46. Kan een van julle bewys dat Ek ’n sondaar is? Nee, julle kan nie. Hoekom glo julle My nie wanneer Ek die waarheid praat nie?

47. Iemand wat aan God behoort, luister na wat God sê. Julle luister nie na wat Hy sê nie, want julle behoort nie aan God nie.”

48. Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons is reg wanneer ons sê jy is ’n Samaritaan en dit is ’n duiwel wat jou so laat praat.”

49. Jesus het gesê: “Nee, dit is nie ’n duiwel wat My so laat praat nie. Ek eer my Vader, maar julle eer My nie.

50. Dit is nie Ek wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik nie. Dit is my Vader wat wil hê julle moet sê Ek is belangrik. Dit is Hý wat mense oordeel.

51. Ek sê vir julle, en dit is seker: As iemand doen wat Ek sê, dan sal hy nooit sterf nie.”

52. Toe sê die Jode vir Jesus: “Nou weet ons dit is ’n duiwel wat jou so laat praat. Abraham het gesterf en die profete het gesterf. Maar nou sê jy as iemand doen wat jy sê, dan sal hy nooit sterf nie.

53. Jy is nie belangriker as Abraham nie, en hy het gesterf. Jy is ook nie belangriker as die profete nie, en hulle het gesterf. Moenie dink jy is so belangrik nie!”

54. Jesus het gesê: “Ek sê nie self Ek is belangrik nie, want as Ek dit sê, dan beteken my woorde niks. Die Vader sê Ek is belangrik, dié Vader vir wie julle sê: ‘Ons God.’

55. Maar julle ken nie die Vader nie. Ek ken Hom. Ek kan nie sê dat Ek Hom nie ken nie. As Ek sê Ek ken Hom nie, dan praat Ek nie die waarheid nie, soos julle. Nee, Ek ken die Vader en Ek doen wat Hy sê.

56. Julle vader Abraham was baie bly toe hy gesien het dat Ek sal kom. Hy het dit gesien en hy was baie bly.”

57. Die Jode het vir Jesus gesê: “Dit is nie waar nie. Jy het nie vir Abraham gesien nie. Jy is nog jonk, jy is nog nie 50 jaar oud nie.”

58. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is God, ook voordat Abraham gelewe het.”

59. Toe het die Jode klippe opgetel om Jesus dood te gooi, maar Hy het stilletjies weggegaan uit die tempel.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8