Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 8:18-35 Bybel vir Almal (ABA)

18. En daar is twee wat dieselfde dinge sê oor My: Dit is Ek en die Vader wat My na die wêreld gestuur het.”

19. Die mense vra toe vir Jesus: “Waar is jou vader?”Jesus het gesê: “Julle ken My nie. Julle ken ook nie my Vader nie. Omdat julle My nie ken nie, ken julle ook nie my Vader nie.”

20. Jesus het dit alles gesê toe Hy vir die mense by die dankoffer-kis in die tempel geleer het. Niemand het Hom gevang nie, want dit was nog nie sy tyd nie.

21. Jesus het weer met die Jode gepraat. Hy het gesê: “Ek gaan weg. Julle sal My soek, maar julle sal My nie kry nie. Julle is sondaars, en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. Waar Ek gaan, kan julle nie kom nie.”

22. Die Jode het gesê: “Hy sê ons kan nie kom waar hy gaan nie. Wil hy homself doodmaak? Ons dink nie hy sal dit doen nie.”

23. Jesus het vir hulle gesê: “Julle kom van die aarde, maar Ek kom van die hemel. Ja, julle is mense van hierdie wêreld, maar Ek is nie van hierdie wêreld nie.

24. Ek het vir julle gesê julle is sondaars en wanneer julle sterf, sal julle nog sondaars wees. As julle nie glo dat Ek God is nie, dan sal julle nog sondaars wees wanneer julle sterf.”

25. Die Jode vra toe vir Hom: “Wie is jy?”Jesus het vir hulle gesê: “Ek kan met julle praat, maar dit sal nie help nie.

26. Ek kan nog baie ander dinge oor julle sê en Ek kan julle oordeel. Hy wat My na die wêreld gestuur het, doen reg. Ek vertel vir die mense van die wêreld alles wat Ek by Hom gehoor het.”

27. Die Jode het nie verstaan dat Hy met hulle van die Vader in die hemel praat nie.

28. Jesus het vir hulle gesê: “Wanneer julle My, die Seun van die mens, aan die kruis opgehang het, dan sal julle besef dat Ek ook God is. Dan sal julle weet Ek, die Seun, doen nie self dinge nie. Nee, Ek sê net wat die Vader vir My geleer het.

29. Die Vader wat My na die wêreld gestuur het, is by My. Hy het My nie alleen gelos nie, want Ek doen altyd die dinge waarvan Hy hou.”

30. Terwyl Jesus hierdie dinge gesê het, het baie Jode in Hom begin glo.

31. Jesus het vir die Jode wat in Hom glo, gesê: “As julle glo en doen wat Ek sê, dan sal julle regtig my dissipels wees.

32. Dan sal julle weet wat die waarheid is, en die waarheid sal julle vrymaak.”

33. Hulle sê toe vir Jesus: “Ons is die nageslag van Abraham. Ons was nog nooit iemand se slawe nie. Hoekom sê jy ons sal vry word?”

34. Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As ’n mens sonde doen, dan is hy ’n slaaf van die sonde.

35. ’n Slaaf bly nie altyd by die familie nie, maar ’n seun bly altyd een van die familie.

Lees volledige hoofstuk Johannes 8