Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:20-30 Bybel vir Almal (ABA)

20. Ons voorvaders het God aanbid op hierdie berg, maar julle Jode sê Jerusalem is die regte plek waar ons God moet aanbid.”

21. Jesus het vir haar gesê: “Mevrou, glo My, daar sal ’n tyd kom wanneer mense die Vader nie hier op die berg sal aanbid nie, en ook nie in Jerusalem nie.

22. Julle Samaritane aanbid God, maar julle ken Hom nie. Ons Jode ken Hom, want die Redder is ’n Jood.

23. Ek het gesê daar sal ’n tyd kom, en die tyd is nou hier. Nou sal die Heilige Gees die mense help om God reg te aanbid. Die Vader wil graag mense hê wat Hom so aanbid.

24. God is Gees. Daarom moet die mense wat Hom aanbid, vra dat die Gees hulle moet help om God reg te aanbid.”

25. Die vrou sê toe: “Ek weet daar sal ’n Messias kom. Die mense noem Hom ook die Christus. Wanneer Hy hier is, dan sal Hy vir ons alles vertel wat ons moet weet.”

26. Jesus sê toe vir haar: “Dit is Ek, Ek wat nou met jou praat.”

27. Jesus se dissipels het teruggekom. Hulle het gesien Jesus praat met ’n vrou en hulle was verbaas. Maar nie een van hulle het vir Hom gevra wat Hy van haar wil hê of hoekom Hy met haar praat nie.

28. Die vrou het haar waterkruik daar gelos en sy het teruggegaan na die stad. Sy het vir die mense gaan sê:

29. “Julle moet kom kyk! Daar is ’n Man wat vir my alles vertel het wat ek gedoen het. Ek wonder of Hy die Christus is.”

30. Die mense het uit die stad na Jesus toe gekom.

Lees volledige hoofstuk Johannes 4