Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 4:1-11 Bybel vir Almal (ABA)

1. Jesus het geweet dat die Fariseërs gehoor het dat Jesus meer dissipels kry as Johannes en dat Hy meer dissipels doop as Johannes.

2. Maar Jesus het nie self mense gedoop nie, sy dissipels het hulle gedoop.

3. Jesus het toe weggegaan uit die provinsie Judea en hy het teruggegaan na die provinsie Galilea.

4. Hy moes deur die provinsie Samaria gaan.

5. Hy kom toe by die stad Sigar in Samaria. Sigar was naby die stuk grond wat Jakob vir sy seun Josef gegee het.

6. Die put van Jakob was daar. Jesus was moeg omdat hulle ver geloop het en Hy het by die put gaan sit. Dit was omtrent twaalfuur die middag.

7. ’n Vrou uit Samaria het daar kom water skep. Jesus het vir haar gevra: “Gee asseblief vir my water om te drink.”

8. Jesus was alleen, want sy dissipels het in die stad gaan kos koop.

9. Die Samaritaanse vrou sê toe vir Jesus: “Jy is ’n Jood! Hoekom vra jy vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?”Sy het dit gesê omdat die Jode nie saam met die Samaritane wou wees nie.

10. Jesus het vir die vrou gesê: “Jy weet nie wat God vir die mense wil gee nie. Jy weet ook nie wie dit is wat nou vir jou water vra om te drink nie. Jy weet nie, en daarom vra jy nie vir My nie, en daarom kan Ek nie vir jou water gee nie, water wat ’n mens waarlik laat lewe.”

11. Die vrou sê toe: “Meneer, jy het niks waarmee jy water kan skep nie, en hierdie put is diep. Waar sal jy die water kry wat ’n mens waarlik laat lewe?

Lees volledige hoofstuk Johannes 4