Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 3:19-35 Bybel vir Almal (ABA)

19. So skei God die mense van mekaar. Die lig het na die wêreld gekom, maar die mense was lief vir die donker, nie vir die lig nie. Hoekom? Hulle was lief vir die donker omdat hulle slegte dinge doen.

20. Iemand wat slegte dinge doen, hou nie van die lig nie. Hy kom nie na die lig toe nie, want hy wil nie hê die mense moet sien wat hy doen nie.

21. Maar iemand wat lewe soos God wil hê, kom na die lig, want hy wil hê die mense moet sien dat hy gehoorsaam is aan God.

22. Daarna het Jesus en sy dissipels na die provinsie Judea gegaan. Hy het ’n kort tydjie daar saam met sy dissipels gebly en Hy het mense gedoop.

23. Johannes was ook besig om mense te doop by Enon naby die stad Salim, want daar was baie water. Die mense het daarnatoe gekom, en hy het hulle gedoop.

24. Johannes was toe nog nie in die tronk nie.

25. ’n Paar van Johannes se dissipels het met ’n Jood begin stry oor hoe ’n mens rein kan word.

26. Hulle het na Johannes toe gegaan en hulle het vir hom gesê: “Rabbi, daar was ’n Man by jou anderkant die Jordaan-rivier. Jy het vir die mense vertel van Hom. Daardie Man doop nou mense, en almal gaan na Hom toe.”

27. Toe sê Johannes: “Dit is God wat so besluit het.

28. Julle het gehoor ek het voorheen gesê ek is nie die Christus nie. God het my vóór die Christus gestuur.

29. Onthou, die bruidegom is die een wat die bruid kry. Die bruidegom se vriend wat staan en wag, is baie bly wanneer hy hoor die bruidegom kom. Daarom is ek nou so bly.

30. Daardie Man moet meer en meer belangrik word, maar ek moet minder belangrik word.”

31. Jesus kom uit die hemel en daarom is Hy belangriker as al die mense. Iemand wat van die aarde kom, is van die aarde, en hy praat oor die dinge op die aarde. Iemand wat van die hemel kom, is belangriker as almal.

32. Hy vertel van die dinge wat Hy gesien en gehoor het, maar niemand wil glo wat Hy vertel nie.

33. Iemand wat glo wat Hy vertel, wys hy glo dat God regtig God is.

34. God het die Seun gestuur. Die Seun sê vir die mense wat God vir Hom gesê het, want God gee sy hele Gees vir Hom.

35. Die Vader is lief vir die Seun en Hy het alles vir die Seun gegee, sodat die Seun oor alles en almal kan regeer.

Lees volledige hoofstuk Johannes 3