Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 19:33-42 Bybel vir Almal (ABA)

33. Toe die soldate by Jesus kom, sien hulle Jesus is klaar dood. Daarom het hulle nie sy bene gebreek nie,

34. maar een van die soldate het ’n spies in Jesus se sy gesteek en dadelik het daar bloed en water uitgekom.

35. Die man wat dit alles sien gebeur het, het dit vertel. Wat hy vertel het, is die waarheid. Hy weet dat hy die waarheid praat. Hy doen dit sodat julle kan glo.

36. Dit alles het gebeur sodat dit waar kon word wat in die Ou Testament geskryf is: “Die mense sal nie sy bene breek nie.”

37. Op ’n ander plek in die Ou Testament is geskryf: “Hulle sal Hom sien, Hy is die Een, hulle het Hom met ’n spies gesteek.”

38. Josef van die stad Arimatea was ’n dissipel van Jesus, maar dit was ’n geheim, want hy was bang vir die Jode. Nadat Jesus gesterf het, het Josef vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam mag wegneem. Pilatus het gesê hy mag dit doen. Toe het Josef gegaan en hy het Jesus se liggaam gaan afhaal van die kruis.

39. Nikodemus, wat voorheen in die nag na Jesus toe gekom het, het ook kom help. Hy het ’n groot klomp mirre en aalwyn gemeng en hy het dit saamgebring.

40. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam geneem en hulle het dit met lappe toegedraai saam met die mirre en aalwyn. Die Jode het dit altyd gedoen voordat hulle iemand begrawe het.

41. Op die plek waar die soldate vir Jesus gekruisig het, was daar ’n tuin. In die tuin was daar ’n nuwe graf. Die mense het nog nooit iemand in daardie graf begrawe nie.

42. Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam in daardie graf gaan sit, want die graf was daar naby en dit was die dag voor die Sabbatdag, die dag wanneer die Jode alles moes gereedmaak vir die Sabbatdag.

Lees volledige hoofstuk Johannes 19