Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 18:30-40 Bybel vir Almal (ABA)

30. Hulle het vir Pilatus gesê: “Jesus het baie verkeerd gedoen. Daarom het ons hom na jou toe gebring sodat jy hom moet straf.”

31. Pilatus het vir hulle gesê: “Julle moet vir Jesus hier wegvat. Gaan kyk wat julle wette sê en dan kan julle self besluit of hy skuldig is.”Die Jode het vir hom gesê: “Nee, ons kan dit nie doen nie, want ons mag nie iemand doodmaak nie.”

32. Dit het gebeur sodat die woorde kan waar word wat Jesus gesê het. Hy het voorheen gesê hoe Hy sal sterf.

33. Pilatus het weer in sy huis ingegaan. Hy het vir Jesus laat roep en hy het vir Jesus gevra: “Is jy die koning van die Jode?”

34. Jesus het vir Pilatus gevra: “Hoekom vra jy vir My of Ek die koning van die Jode is? Het jy dit self gedink, of het ander mense met jou gepraat oor My?”

35. Pilatus het vir Jesus gesê: “Ek is nie ’n Jood nie! Jou eie mense en die priesterleiers het jou na my toe gebring. Hulle wil hê ek moet jou straf. Jy moet vir my sê wat jy verkeerd gedoen het.”

36. Jesus het vir hom gesê: “Ek is nie ’n koning soos die ander konings op die aarde nie. As Ek so ’n koning is, dan sal my mense veg om My te beskerm, en jy sal My dan nie vir die Jode kan gee nie. Nee, Ek is nie ’n koning soos die ander konings op die aarde nie.”

37. Pilatus het vir Jesus gesê: “O, jy is ’n koning?”Jesus het vir hom gesê: “Dit is jý wat sê Ek is ’n koning. Ek is gebore en Ek het na die wêreld gekom om vir die mense van die waarheid te kom vertel. Elkeen wat die waarheid gekry het van God, luister na My.”

38. Pilatus vra toe vir Jesus: “Wat is die waarheid? Ek dink niemand weet nie.”Toe Pilatus klaar met Jesus gepraat het, het Hy weer uitgegaan na die Jode toe. Hy het vir hulle gesê: “Jesus het niks verkeerd gedoen nie.

39. Julle weet ek laat altyd vir julle iemand uit die tronk kom wanneer dit Paasfees is. Wil julle hê ek moet vir Jesus, die koning van die Jode, laat uitkom?”

40. Hulle het hard geskree: “Nee, jy moenie vir Jesus laat uitkom nie! Jy moet vir Barabbas laat uitkom!”Barabbas was ’n man wat teen die Romeinse regering geveg het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 18