Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 13:19-30 Bybel vir Almal (ABA)

19. “Ek sê dit nou vir julle, voordat dit gebeur. Wanneer dit later gebeur, dan sal julle glo dat Ek ook God is.

20. Ek sê vir julle, en dit is seker: Wanneer Ek iemand stuur om ’n boodskap te bring, en die mense luister na hom, dan luister hulle ook na My. En wanneer mense na My luister, dan luister hulle na die Vader wat My gestuur het.”

21. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy baie hartseer en ontsteld geword en Hy het ernstig gepraat en vir die dissipels gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Een van julle sal My verraai.”

22. Die dissipels het na mekaar gekyk. Hulle was baie verbaas, want hulle het nie geweet van wie Jesus praat nie.

23. Een van die dissipels het langs Jesus gesit. Dit was die dissipel vir wie Jesus lief was.

24. Petrus het vir daardie dissipel gewys hy moet vir Jesus vra wie Hom sal verraai.

25. Die dissipel wat langs Jesus gesit het, vra toe vir Jesus: “Here, van wie praat U? Wie is die persoon wat U sal verraai?”

26. Jesus het gesê: “Ek sal ’n stukkie brood in die sous druk en Ek sal dit gee vir die een wat My sal verraai.”Jesus druk toe ’n stukkie brood in die sous en Hy gee dit vir Judas seun van Simon Iskariot.

27. Judas het die stukkie brood geneem, en toe het die Satan in Judas se hart gekom en vir Judas regeer. Daarom het Jesus vir Judas gesê: “Jy moet nou gou maak en gaan doen wat jy wil doen.”

28. Die ander dissipels wat daar gesit het, het nie verstaan hoekom Jesus vir Judas gesê het hy moet gou maak nie.

29. Judas het die sak gedra waarin Jesus en die dissipels se geld was. Daarom het party van die dissipels gedink Jesus sê vir Judas om alles te gaan koop wat hulle moet hê vir die Paasfees. Party dissipels het gedink Jesus sê vir Judas hy moet geld vir die arm mense gaan gee.

30. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy dadelik uitgegaan. Buite was dit donker.

Lees volledige hoofstuk Johannes 13