Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 11:17-32 Bybel vir Almal (ABA)

17. Toe Jesus in Betanië aankom, het Hy gehoor dat Lasarus vier dae in die graf is.

18. Betanië was naby Jerusalem, omtrent 15 stadioi van Jerusalem.

19. Baie Jode het na Marta en Maria toe gekom om hulle te troos omdat hulle broer Lasarus dood is.

20. Toe Marta hoor dat Jesus kom, gaan sy na Hom toe om Hom te verwelkom. Maria het in die huis bly sit.

21. Marta het vir Jesus gesê: “Here, as U hier was, dan het my broer nie gesterf nie,

22. maar ek weet dat God ook nou vir U alles sal doen wat U vir Hom vra.”

23. Jesus het vir haar gesê: “Jou broer sal weer lewe.”

24. Marta sê toe vir Jesus: “Ek weet hy sal weer lewe op die laaste dag wanneer God al die mense wat dood is, weer sal laat lewe.”

25. Jesus het vir haar gesê: “Ek laat mense lewe, Ek laat hulle vir altyd lewe. Mense wat in My glo en sterf, sal lewe.

26. Almal wat lewe en wat in My glo, sal nie dood bly nie. Glo jy wat Ek vir jou sê?”

27. Marta het vir Hom gesê: “Ja, Here, ek glo U is die Christus, die Seun van God. Ek glo U is die Een, God het U na die wêreld gestuur.”

28. Nadat Marta dit gesê het, het sy teruggegaan huis toe. Sy het haar suster Maria geroep en saggies vir haar gesê: “Die Rabbi is hier. Hy roep jou.”

29. Toe Maria dit hoor, het sy vinnig opgestaan en na Jesus toe gegaan.

30. Jesus het nog nie in die stad ingegaan nie. Hy was nog daar waar Marta met Hom gepraat het.

31. Daar was Jode saam met Maria in die huis. Hulle het gekom om haar te troos. Hulle het gesien Maria staan vinnig op en gaan buitetoe. Hulle het gedink sy gaan na Lasarus se graf om daar te gaan huil. Daarom het hulle saam met haar gegaan.

32. Maria het by die plek gekom waar Jesus gestaan het en sy het voor Hom gekniel. Sy het vir Hom gesê: “Here, as U hier was toe my broer siek was, dan het my broer nie gesterf nie.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 11