Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:40-51 Bybel vir Almal (ABA)

40. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee dissipels wat gehoor het wat Johannes gesê het en wat toe saam met Jesus gegaan het.

41. Andreas het eers sy broer Simon gaan soek en hy het vir Simon gesê: “Ons het die Messias gekry!”Messias beteken “Christus.”

42. Andreas het vir Simon na Jesus toe gebring. Toe Jesus vir Simon sien, sê Hy: “Jy is Simon seun van Johannes. Jou naam sal nou Sefas wees.” Petrus is die Griekse woord vir Sefas.

43. Die volgende dag het Jesus besluit om na die provinsie Galilea te gaan. Hy kry toe vir Filippus en sê vir hom: “Volg My!”

44. Filippus het in Betsaida gewoon. Dit was dieselfde stad waar Andreas en Petrus gewoon het.

45. Filippus kry toe vir Natanael en sê vir hom: “Moses het in sy boeke geskryf oor die Man wat sal kom, en die profete het ook oor Hom geskryf. Ons het Hom gekry! Sy naam is Jesus. Hy is die seun van Josef en Hy kom van die stad Nasaret.”

46. Maar Natanael het vir hom gesê: “Nasaret? Kan daar uit Nasaret iets kom wat goed is?”Filippus sê toe vir hom: “Kom kyk!”

47. Jesus het vir Natanael gesien nader kom en Hy het gesê: “Hierdie man is ’n ware Israeliet! Hy is nie vals nie.”

48. Natanael vra toe vir Jesus: “Hoe weet U dit? Ken U my?”Jesus sê vir hom: “Ek het jou daar onder die vyeboom gesien voordat Filippus jou geroep het.”

49. Natanael het vir Jesus gesê: “Rabbi, U is die Seun van God! U is die Koning van Israel!”

50. Jesus het vir hom gesê: “Jy glo in My omdat Ek vir jou gesê het Ek het jou daar onder die vyeboom gesien, maar jy sal nog dinge sien wat baie wonderliker is!”

51. Jesus het ook vir hom gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal sien die hemel gaan oop en die engele van God gaan van My na God toe, en hulle kom van Hom na My toe, na My, die Seun van die mens.”

Lees volledige hoofstuk Johannes 1