Ou Testament

Nuwe Testament

Johannes 1:28-40 Bybel vir Almal (ABA)

28. Dit het alles gebeur in die stad Betanië anderkant die Jordaan-rivier. Johannes het die mense daar gedoop.

29. Die volgende dag het Johannes gesien Jesus kom na hom toe. Johannes sê toe hard: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee! Hy sal die sonde van die wêreld wegneem.

30. Ek het van Hóm gepraat toe ek gesê het: ‘Ek het gekom, en ná my sal ’n Man kom. Hy is belangriker as ek, want Hy was daar lank voor my.’

31. Ek het Hom nie geken nie, maar ek het gekom om die mense van Israel met water te doop sodat hulle sal weet wie Hy is.”

32. Johannes het ook gesê: “Ek het gesien die Heilige Gees kom soos ’n duif uit die hemel en bly op Hom.

33. Ek het Hom nie geken nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Jy sal sien die Gees kom af en bly op Hom. Dit is Hy wat die mense met die Heilige Gees sal doop.’

34. Ek het dit self gesien. Daarom sê ek vir julle: Hierdie Man is die Seun van God.”

35. Die volgende dag het Johannes en twee van sy dissipels weer daar gestaan.

36. Johannes het gesien Jesus loop verby. Johannes het hard gesê: “Kyk, daar is die Lam wat God vir ons gee!”

37. Die twee dissipels het gehoor wat Johannes gesê het. Daarom het hulle begin om Jesus te volg.

38. Jesus het omgedraai en Hy het gesien hulle volg Hom. Hy vra toe vir hulle: “Wat soek julle?”Hulle het geantwoord: “Rabbi, waar woon U?”’n Rabbi is iemand wat vir mense leer hoe om God te dien.

39. Jesus sê toe vir hulle: “Kom kyk!”Hulle het gegaan en hulle het die plek gesien waar Hy woon. Dit was omtrent vier-uur die middag. Hulle het daardie hele dag by Jesus gebly.

40. Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee dissipels wat gehoor het wat Johannes gesê het en wat toe saam met Jesus gegaan het.

Lees volledige hoofstuk Johannes 1