Ou Testament

Nuwe Testament

Jakobus 2:13-26 Bybel vir Almal (ABA)

13. Want wanneer God oordeel, dan sal Hy nie jammer wees vir mense wat nie goed was vir ander mense nie. Maar as mense goed was vir ander mense, dan sal God nie vir hulle straf nie.

14. My vriende, dit help niks as julle sê dat julle in God glo, maar julle doen nie wat God wil hê nie. As julle so glo, dan sal dit julle nie red nie.

15. ’n Ander gelowige het miskien nie klere nie en hy het nie elke dag genoeg kos om te eet nie,

16. en een van julle sê miskien vir so ’n persoon: “Ek hoop dit gaan goed met jou, jy moet warm klere aantrek en genoeg eet.”Maar as julle nie vir daardie persoon gee wat hy nodig het nie, dan moet julle weet dat dit niks help nie.

17. So gaan dit ook met mense wat sê dat hulle in God glo, maar hulle doen nie wat Hy wil hê nie. Om so te glo, beteken niks, daardie geloof is dood.

18. Maar iemand sal miskien sê: “Een persoon glo in God en ’n ander persoon doen wat God wil hê.”Maar ek sê nee, dit is verkeerd. Wys vir my hoe jy kan glo en nie doen wat God sê nie, dan wys ek vir jou dat ek glo omdat ek doen wat God sê.

19. Jy glo dat daar een God is, en dit is reg. Die duiwels glo dit ook en hulle is so bang dat hulle bewe.

20. Dwase mens, almal weet dat dit niks help om te sê jy glo in God as jy nie doen wat Hy sê nie.

21. Abraham, ons voorvader, het sy seun Isak na die altaar gebring om hom te offer. Julle weet dat God hom vrygespreek het omdat hy gedoen het wat God wil hê.

22. Nou kan jy verstaan dat Abraham gesê het hy glo in God, want hy het gedoen wat God wil hê. Ja, hy het gedoen wat God wil hê, en dít het gewys dat hy heeltemal in God glo.

23. So het ook gebeur wat in die Ou Testament geskryf is: “Abraham het God geglo, en God het hom vrygespreek.”Daarom het God gesê Abraham is sy vriend.

24. Julle moet verstaan dat God ’n mens vryspreek omdat daardie mens dóén wat God wil hê. God spreek hom vry, maar Hy doen dit nie net omdat die mens sê dat hy in God glo nie.

25. Julle weet ook dat God vir Ragab, die prostituut, vrygespreek het omdat sy gedoen het wat Hy wou hê. Sy het die spioene genooi om in haar huis in te kom en sy het vir hulle gehelp om weg te gaan op ’n ander pad.

26. ’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is geloof ook dood wanneer ’n mens nie doen wat God wil hê nie.

Lees volledige hoofstuk Jakobus 2