Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 6:1-6 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die gelowiges het in hierdie tyd meer en meer geword. Die mense in die gemeente wat Grieks praat, het begin kla oor die mense in die gemeente wat Hebreeus praat. Hulle het gesê dat die weduwees van die mense wat Grieks praat, nie genoeg kos kry wanneer die gelowiges elke dag vir die arm mense in die gemeente kos gee nie.

2. Toe het die twaalf apostels al die gelowiges bymekaar laat kom. Die apostels het vir hulle gesê: “Ons, die apostels, moenie die hele dag besig wees om kos te gee vir die arm mense nie. Want dan sal ons nie genoeg tyd hê om die boodskap van God vir mense te bring nie. Dit is nie reg nie.

3. Vriende, julle moet sewe manne in die gemeente kies. Almal moet weet en sê dat hulle goeie manne is. Die Heilige Gees moet regeer oor hulle lewens en hulle moet baie wysheid hê. Ons moet vir hulle die werk gee om vir die arm mense te sorg.

4. En dan kan ons, die apostels, al ons tyd gebruik om vir mense te bid en om die boodskap van God te bring.”

5. Die gelowiges het almal gedink dit is goed wat die apostels gesê het. Hulle het toe die volgende manne gekies: Stefanus, ’n man wat ’n sterk geloof gehad het, die Heilige Gees was in hom, Filippus, Progorus, Nikanor, Timon, Parmenas en Nikolaus. Nikolaus het voorheen in Antiogië gewoon. Hy was eers ’n heiden en hy het later die Jode se godsdiens aanvaar.

6. Die gelowiges het hierdie manne voor die apostels laat staan. Die apostels het vir hulle gebid en hulle het hulle hande op die manne gesit.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 6