Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 26:7-20 Bybel vir Almal (ABA)

7. Ons twaalf stamme hou aan om vir God te dien, want ons weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het. Ja, koning Agrippa, die Jode beskuldig my omdat ek weet en hoop dat God sal doen wat Hy belowe het.

8. Hoekom wil julle nie glo dat God mense wat gesterf het, weer kan laat lewe nie?

9. “Voorheen het ek gedink dat ek baie slegte dinge moet doen teen die Naam van Jesus van Nasaret.

10. In Jerusalem het ek baie slegte dinge gedoen aan die mense wat aan God behoort. Ek het baie van daardie mense in tronke laat gooi. Die priesterleiers het gesê ek mag dit doen. Ek het ook gesê dit is reg toe hulle die mense doodgemaak het wat aan Jesus behoort.

11. Ek het hulle baie maal gestraf en ek het gesê hulle móét in al die sinagoges slegte dinge sê teen God. Ek was baie kwaad vir hulle en ek het baie slegte dinge gedoen aan hulle, ook in die stede in ander lande, ver weg van Jerusalem.

12. “Dit is hoekom ek na die stad Damaskus gegaan het. Die priesterleiers het gesê ek kan en moet dit gaan doen.

13. Ek was besig om na die stad Damaskus te gaan. Dit was omtrent twaalfuur die middag. Koning, toe het ek ’n lig gesien wat uit die hemel skyn. Die lig was baie helder, meer helder as die son. Die lig het op my geskyn, en ook op die mense wat saam met my geloop het.

14. Ons het almal op die grond geval, en toe het ek Iemand gehoor praat. Hy het in Hebreeus vir my gesê: ‘Saul, Saul, hoekom doen jy slegte dinge aan My? Jy maak jouself seer as jy nie na My luister nie.’

15. “Ek het geantwoord: ‘Wie is U, Here?’ En die Here het vir my gesê: ‘Ek is Jesus. Jy doen slegte dinge aan My.

16. Maar jy moet opstaan. Ja, staan regop, want Ek het aan jou verskyn omdat Ek jou gekies het en omdat Ek jou wil aanstel om vir My te werk. Jy moet My dien en jy moet getuig van die dinge wat jy vandag gesien het. Jy moet ook getuig van die dinge wat Ek later vir jou sal wys.

17. Ek sal jou beskerm teen jou eie volk en teen die heidene. Ek stuur jou na die heidene.

18. Hulle glo nie in My nie. Hulle is soos blinde mense, maar Ek sal jou gebruik om hulle weer te laat sien. Hulle moet verander en lewe soos God wil hê. Dan sal hulle wees soos mense wat in die donker was, maar wat na die lig gekom het. Ja, hulle moet wegdraai van die krag van Satan, hulle moet teruggaan na God toe. Dan sal God hulle sonde vergewe en hulle sal ook mense word wat aan God behoort omdat hulle in My glo.’

19. “Koning Agrippa, God het dit alles vir my laat sien en laat hoor. Daarom was ek gehoorsaam

20. en ek het gaan preek, eers vir die mense wat in Damaskus woon, en toe vir die mense wat in Jerusalem woon, en toe oral in die provinsie Judea, en ook vir die heidene. Ek het vir hulle gesê hulle moet verander en begin lewe soos God wil hê. Ja, hulle moet teruggaan na God toe en hulle moet dinge doen wat wys dat hulle verander het en dat hulle lewe soos God wil hê.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 26